Ons is op soek na jou stories!

Revised: April 14, 2012 Tags:

Hier is jou kans om jou storie te vertel

Ons is op soek na jou eie persoonlike storie(s) oor jou tyd by 61 Meg of Veggroep Juliet terwyl jy en jou makkers dit nog kan onthou – sluitingsdatum vir die kompetisie is 31 Mei 2012

61 Meg het vanaf 1979 tot 2005 bestaan, en gedurende hierdie 27 jaar het duisende soldate in en uit by die hekke van hierdie eenheid beweeg, of dit nou op Omuthiya, Rooikop of Lohathla was. Maar ons soek ook die stories van die manne wat in 1978 deel was van Veggroep Juliet, die eerste manne wat met Ratels oorlog gemaak het.

Tydens die Bosoorlog was ons makkers by tye blootgestel gewees aan verwoede aksie in Namibie en Angola, terwyl daar weer ander tye was wat hulle in die basis besig was om hangers of fliekstoeltjies te bou of op ander maniere hulleself besig gehou het of besig gehou is.

Die manne wat by Rooikop gestasioneer was, het weer ander tipe belewenisse gehad, en hierdie makkers het beslis ook interessante stories om te vertel van hulle wedervaringe.

Op Lohathla het die manne eiesoortige uitdagings gehad, soos die rol van 61 Meg verander het, en dit is ’n uiters belangrike deel van ons eenheid se geskiedenis wat daar in die Noord Kaap geskryf is. Ons het nog heeltemal te min bydraes van ons veterane van daardie tyd op ons member site ontvang as mens in ag neem dat die grootste getal van ons veterane was in daardie tyd deel van die eenheid gewees.

Dit is goed en wel om die die amptelike geskiedenis van 61 Meg op ons member site te laai deur middel van gedeklassifiseerde militere dokumente, maar dit het nie dieselfde trefkrag as ons veterane se eie persoonlike stories van hulle belewenisse tydens operasies, vryetydsbestryding en ander sports in die basis, taktiese oefeninge en binnelandse operasies en ontplooiings in die townships nie.

Ons wil julle nooi om tot einde Mei 2012 bietjie moeite te maak om jou eie storie of stories te kom vertel, en ons loof twee pryse uit. Vir die treffendste storie kry die wenner ’n getekende eksemplaar van Die Buffel Struikel deur Louis Bothma en vir die meeste stories wat ons kan plaas van een veteraan kry daardie wenner ’n getekende eksemplaar van Anderkant Cuito – ’n Reisverhaal van die Grensoorlog ook deur Louis Bothma.

Jy kan die storie op verskillende maniere by ons uitkry:
1. Jy kan die storie netjies en leesbaar per hand skryf en faks na 086 618 6705
2. Jy kan die storie self tik en mail na admin@61Mech.org.za
3. Jy kan op die member site ingaan en kliek op SHARE YOUR STORY en dan jou storie so instuur

Dis belangrik vir ons om te weet wat jou indeling was toe jy deel was van 61 Meg, want dit sal insig gee in die perspektief waarmee jy jou storie vertel.

Maak asseblief die tyd om jou storie(s) te vertel, want as jy dit nie nou doen nie gaan dit verlore gaan.Op die member site sal jy sien by watter jare en operasies is daar nog maar min stories ingestuur, en probeer om daardie jare en operasies volledig te maak met jou bydraes as jy daardie tyd deel van 61 Meg was.

Waaroor moet jy skryf?

Dit is belangrik dat jy vertel waar pas jou storie in by 61 Meg of Veggroep Juliet se geskiedenis – tyd in die basis tydens ’n spesifieke jaar, ’n spesifieke oefening of operasie, ontplooiing in ’n township, ens. In watter subeenheid was jy en wie was saam met jou daar en wat hetjulle/ hulle gedoen?

Vertel ons wat gebeur het, hoe jy gevoel het oor daardie insident/gebeurtenis en hoe dit jou lewe geraak het of nie.

Daar was baie snaakse insidente ook gewees, en dit moet nie verlore gaan nie.Daar was verseker ook heelwat vonkproppe gewees, want ons weet mos alles het nie altyd verloop soos dit beplan was nie.

Daar was ook hartseer insidente, en dit moet ook vertel word.Maar daar was beslis ook insidente waar iets van ons mensemateriaal na vore gekom het wat mens trots gemaak het om deel van 61 Meg te wees.

Onthou, hierdie stories wat so op die member site geplaas word kan dan ook gebruik word in die boek oor 61 Meg wat in 2013 uitgegee gaan word.Die skrywers vorder fluks, maar hulle wil graag die veterane se stories integreer in die 61 Meg boek.

Documents

No Documents added