61 Meg soldate besoek die Heldeakker in Windhoek

Revised: October 14, 2010 Tags:

Meer as twee dekades na die grensoorlog tot ’n einde gekom het, is ’n kruistog in die kleine besig om deur Namibië en Angola na die slagvelde van die verlede plaas te vind.

’n Klein groepie oudvegters wat destyds aan die 61 Gemeganiseerde Bataljon van die Suid-Afrikaanse weermag verbonde was, het besluit om die besoek aan Namibië in Windhoek by die Heldeakker met die oorhandiging van ’n simboliese kruis te begin.

Generaal-majoor Roland de Vries, die voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse leër en die bevelvoerder van die eenheid wat in die volksmond as 61 Meg bekend gestaan het, het by die seremonie gesê die besoek aan die Heldeakker is om elke persoon wat sy lewe vir die stryd gegee het, se opoffering te eer en te gedenk.

Hy het ’n staaltjie uit sy eie ondervinding van die oorlog vertel en gesê aan die begin van die stryd het hy besef dat dit ’n lang oorlog gaan wees.

“Ons het vroeg agtergekom dat ons met ’n gedugte vyand te make het. Die besef het deurgedring dat dit ’n taai stryd sou wees.”

Die kruis wat die groep oudvegters aan senior offisiere van die Namibiese weermag oorhandig het, is volgens genl. De Vries simbolies van die opoffering wat elke soldaat aan beide kante van die stryd gemaak het.

Mnr. Louis Bothma, self ’n oudvegter verbonde aan die ontbinde 32 Bataljon en skrywer van die boek Die Buffel Struikel, vergesel die groep op hul tog. Hy het ’n eksemplaar van die boek aan hul gasheer in Windhoek oorhandig om hom vir sy gasvryheid te bedank.

“Die geskiedenis van die grensoorlog is nog lank nie klaar geskryf nie. Die rol wat ander gevegseenhede van die Suid-Afrikaanse weermag destyds tydens die bosoorlog gespeel het, word in baie opsigte oorskadu deur meer bekende groepe, maar dit is belangrik vir die mense om vrede te maak met die stryd wat soveel van hulle geverg het.”

Daarna is die kruis aan brigadier-generaal Karel Ndjoba van die NDF oorhandig. Genl. Ndjoba het op sy beurt gesê Namibië is ’n land waar vrede sedert onafhanklikheid heers.

Hy het die Suid-Afrikaners bedank vir hulle oortuiging om vrede met die verlede te maak en hulle ook genooi om Namibië meer gereeld te besoek.

Documents

    No Documents added

Images