61 Meg uiteindelik op die brug net suid van Cuito Cuanavale

Revised: November 12, 2009 Tags:

61 Meg uiteindelik op die brug net suid van Cuito Cuanavale

Dit was miskien wel 22 jaar te laat, maar op Dinsdag 7 Julie 2009 het 8 lede van die 61 Meg Veteranevereniging hulle voete stewig geplant op die nou beroemde of berugte brug net suid van die dorpie Cuito Cuanavale in Angola.

Hierdie dorpie se naam is in 1987 en 1988 tydens Operasies Moduler, Hooper en Packer in baie Suid Afrikaanse soldate en hulle geliefdes se geheues ingegraveer met die verwoede gevegte wat in hierdie omgewing plaasgevind het.

Oom Ep van Lill, Jan Malan,Jaap Steyn, Oom Doepie du Plessis, Andre Martin, Mark Lowes, Ariel Hugo en Gert Minnaar het uiteindelik gesmaak wat dit voel om op hierdie 110 meter lange brug te staan waaroor so baie van daardie tyd se bohaai gegaan het.

Saam met hulle was Jo Ractliffe, ‘n foto joernalis wat by Wits Universiteit doseer en James Boon, ‘n kameraman wat vir ‘n maatskappy werk wat TV programme maak vir National Geographic, Planet Earth en die History Channel.

Generaal Jannie Geldenhuys praat met ons toerleier op die brug by Cuito Cuanavale

Dit was seker pure toeval gewees, maar toe ons oor die brug by Cuito Cuanavale ry, het ons toerleier, Koos Moorcroft, ‘n oproep van generaal Jannie Geldenhuys ontvang.

Koos Moorcroft het vir die generaal gese dat hy nooit sou kon glo waar hy op daardie oomblik was nie. Die nuus oor ons teenwoordigheid op daardie brug was gewis vir die generaal ‘n verassing gewees.

Miskien was die tydsberekening van die generaal se oproep toe nie so toevallig gewees nie?

Eerste Angola ekspedisie wat al 61 Meg se slagvelde besoek het

Hierdie geskiedkundige eerste ekspedisie wat onder die vaandel van die 61 Meg Veteranevereniging Angola besoek het, het op 26 Junie vertrek op ‘n roete wat al die slagvelde gedek het waar die soldate van 61 Meg Bataljon Groep tydens die Bosoorlog hulle staal moes wys.

Die roete het die toergeselskap ook deur Cassinga en Savate geneem, twee plekke wat spesiale betekenis vir die soldate van 1 Valskermbataljon, 44 Valskermbrigade en 32 Bataljon het.

‘n Hinderlaag deur Eie Magte in Windhoek

Op pad na Angola het die toerspan hom in Windhoek vasgeloop in gasvryheid so ruimhartig en opreg dat dit aan aanranding gegrens het.

Frank van Zyl en sy makkers van Windhoek het die toerlede vergas op ‘n tent in die bos met ‘n groot skerm waar die tweede toets teen die Leeus gekyk is, biltong en droe wors op groot skaal verorber is en ‘n skaapbraai daarna met genoeg drinkgoed om vir ‘n bataljon migraine te gee.

Daar is tot laat saam met die manne van Windhoek gekuier, en almal is diep getref daar weg oor die wonderlike gesindheid waarmee die ekspedisie ontvang is.

‘n Man mag mos maar ‘n traantjie pik as jy hierdie tipe spontane ontvangs te beurt val?

‘n Reis veel verder as jou lyf

Hierdie ekspedisie deur Angola het al die verwagtinge oorskry, en daar is in ons harte baie verder gereis as waar ons lywe ons ooit kon neem.

Bespreek nou vir die volgende toer(e) in 2010

As jy kans sien om R14 000 te betaal (jy het ‘n jaar om te spaar), 16 nagte in chopper tente te slaap, lang ente op vrot paaie te ry en nie bang is om vrede te maak met die verlede nie, kan jy nou jou plek bespreek op volgende jaar se Angola ekspedisie(s) wat deur die 61 Meg Veteranevereniging aangebied gaan word.

Stuur nou dadelik vir ons ‘n e-mail by admin@61Mech.org.za sodat jy nie nodig het om volgende jaar jou hare uit jou kop te trek omdat jy nie jou plek betyds bespreek het nie.

En as jy nie self kan of wil gaan nie, maar in die bevoorregte posisie is om ‘n gedeelte of die totale koste vir iemand anders te borg, sal ons ook graag van jou wil hoor.

Documents

    No Documents added

Images