Brothers in Arms? Daai dae is verby, Boet

Revised: October 29, 2011 Tags:

Terwyl ’n string boeke en TV-reekse skielik oor die Grensoorlog verskyn, het die oorlog se generaals en politici hul mes vir mekaar in. Hoekom is die era van stille lojaliteit en versweë verwyt oornag verby? En hoekom nou? ALBERT VENTER ondersoek die fenomeen.

Die Grensoorlog is al sowat 22 jaar verby. Tog wil die polemieke daaroor maar net nie in Afrikanergeledere gaan lê nie.

Op kykNET het die reeks Hartland iets daarvan weergegee, en verlede week het Ruda Landman in die kykNET- program ’n Lewe Met… gesels met ene Paul Louw, wat meer as 20 jaar met post-traumatiese stressindroom moes saamleef ná sy ervaringe in die oorlog. Soos Paul is heelwat gewone dienspligtiges van dié tyd nou middeljarig en sinies oor hul gedwonge deelname aan ’n oorlog wat hul jeug en welsyn gesteel het.

Dit is waarskynlik ook geen wonder dat die musiekblyspel Tree Aan! vol sale gelok het en ’n string boeke oor die oorlog nou uitgegee word nie — Kopwond deur Anthony Feinstein, Skadu’s in die Sand van Sisingi Kamongo en Ons Was Daar deur oudgenl. Jannie Geldenhuys, om maar ’n paar te noem.

Intussen het Geldenhuys se kritiek op oudminister Pik Botha hewige reaksie ontlok nadat ’n onderhoud oor die boek waarvan hy die samesteller was onlangs in By verskyn het.

Maar waarom wil die debat oor die oorlog nie gaan lê nie — en hoekom woed dit twee dekades later byna vuriger as ooit?

Daar is ’n paar makroperspektiewe oor die Grensoorlog wat ’n mens in gedagte moet hou wanneer jy jou in die polemiek daaroor begewe.

Ten eerste was die oorlog deel van die groter stryd tussen die Afrikaner en die witbeheerde veronderstelde “Afrikanerrepubliek” en swart bevrydingsbewegings, by name die ANC en MK.

Vir die oorgrote meerderheid van die volwasse Afrikaners in die tyd van die die Grensoorlog (1966-1989) was Suid-Afrika “ons republiek, met ons weermag, ons polisie en ons regering”. Voorts het die Afrikaanse susterskerke goddelike sanksie vir die beleid van apartheid verskaf: ’n regverdige rassebedeling vir almal in die land is in ooreenstemming met God se wil en die Heilige Skrif. Daarbenewens het intellektuele soos A.P. Treurnicht, P.J. Meyer, A.B. du Preez, Koot Vorster en vele ander hierdie goddelike regverdiging van die sekulêre verhoog af gepopulariseer.

Nasionale Party-politici het die beleid uitgevoer en die nodige propaganda om verkiesings te wen voorsien. Strijdom, Verwoerd, Vorster, P.W. Botha het opeenvolgende verkiesings gewen, dikwels met die swart gevaar en rooi aanslag as eksplisiete of subliminale temas. Die essensie van die apartheidstaat en die onafhanklikmaking van swart volkere tussen 1948 en 1990 was op ’n droomwêreld gebaseer. Droomwêrelde en die botsende pragmatiese aard van politiek lei tot geweld: nazisme, waar die Jode moet verdwyn, kommunisme, waar die staat sal verdwyn, en apartheid, waar die swart gevaar sal verdwyn, is pynlike voorbeelde.

Nie lank nadat Verwoerd se groot apartheidsbeleid begin posvat het nie, ontstaan die gewapende stryd teen die apartheidstaat, gelei deur die ANC, die SAKP en later ook die PAC. Gou is die stryd teen Suid-Afrika op diplomatieke gebied geïnternasionaliseer. Teen 1966, kort ná Verwoerd se dood, begin die Grensoorlog.

Die NP-regering het die Grensoorlog in ’n Koue-Oorlog-konteks probeer voer: “Suid-Afrika is op die voorpos van die stryd teen Sowjet-kommunisme en ’n getroue bondgenoot en verteenwoordiger van Westerse belange. Die val van Pretoria sal die eerste domino wees van die val van die Weste voor die Sowjet-kommuniste.”

Onder P.W. Botha, wat in 1966 minister van verdediging word, word die Suid-Afrikaanse Weermag uitgebou tot ’n doeltreffende gevegsmasjien om “ons land teen die totale kommunistiese aanslag te verdedig”. Teen 1968 is diensplig vir wit jong mans ouer as 16 algemeen. Binne die SAW se topstruktuur en onder leiding van veral genl. Magnus Malan word ’n totale-aanslag-kultuur in die SAW aangehits. Dienspligtiges word hierdeur geïndoktrineer — húlle moes immers in die Grensoorlog sterf, nie die topstruktuur van die SAW of die topleiers van die NP-regering nie.

Die NP-regering en sy militêre burokrasie kon nooit die wesenlike teenstrydigheid van die behoud van apartheid in die stryd teen die “kommunistiese aanslag” oplos nie. Die internasionale omgewing van 1966-1989 was — ondanks die konteks van die Koue Oorlog — net nie meer vatbaar vir die oortuiging dat apartheid ’n suiwer binnelandse aangeleentheid vir Suid-Afrika is nie. Die rasse- en kleurgrondslag van die apartheidsbestel is só deeglik internasionaal verpolitiseer dat geen Westerse staat die NP-regering openlik kon ondersteun in die Koue-Oorlog-stryd teen die Sowjetblok nie.

Ook het die persepsie van die SAW sowel as die NP-regering dat die Sowjetunie ’n aanslag teen Suid-Afrika orkestreer — dat hy Suid-Afrika as ’n kroonstuk in die skaakspel om die wêreld beskou — nie op ’n genuanseerde ontleding van die Sowjetunie se buitelandse beleid berus nie.

Tog was die NP-regering se kommunikasie oor die totale aanslag betreklik doeltreffend. Vele sakeondernemings het baat gevind by die Grensoorlog, en die gevoel van bedreiging van die wit beskawing ná die val van die cordon sanitaire van die Portugese ryk en Rhodesië het bygedra tot ’n beleg-mentaliteit by die meerderheid van die wit bevolking. Dus is die totale-aanslag-veldtog van die NP-regering grotendeels aanvaar totdat die Sowjetunie in duie gestort het.

Selfs daarna is die standpunte van die De Klerk-regering eerder as dié van die liberale opposisie deur wit kiesers aanvaar.

Wit kiesers was tydens die Grensoorlog betreklik konserwatief en beslis anti-kommunisties. Dus het hulle die totale-aanslag-strategie in verkiesings tydens die oorlog grotendeels “gekoop”. Die “liberale wit opposisie” het nooit meer as 20% van die populêre steun in algemene verkiesings ontvang nie.

Buitendien is die Grensoorlog ook deur wit mense ervaar as ’n stryd waarin die “swart gevaar” ’n wesenlike bedreiging was. Die oorlog is dus nie net in anti-kommunistiese terme ervaar nie, maar ook in rasseterme. Omdat die vrees vir swart oorheersing endemies was in die kollektiewe geheue, in die argetipiese eksistensiële angs van die meeste wit mense, kon liberale kritiek in die PFP-styl en die uitlig van anomalieë nie partypolities hond haaraf maak nie.

Apartheid was die achilleshiel van die totale-aanslag-strategie. Daar is geen manier waarop die “totale aanslag” teen Suid-Afrika afgeweer kon word met watter slim nasionale veiligheid- strategie ook al nie. Die wesenlike struikelblok vir die totale-aanslag, apartheid, sou verwyder moes word om die konflik in Suid- en Suider-Afrika te beëindig. Dit het op 2 Februarie 1990 gebeur — nie deur oorlog nie, maar deur onderhandeling.

Vandag, 22 jaar ná die Grensoorlog en 17 jaar sedert die geboorte van die “nuwe” Suid-Afrika, wil die trauma van die oorlog vir gewone dienspligtiges net nie gaan lê nie. Die droomwêreld van “ons land, ons weermag, ons polisie en ons staatsdiens” waarin hulle geglo het, is immers aan skerwe. Die meesterverhaal van apartheid (lees: afsonderlike ontwikkeling) wat vir almal (lees: veral Afrikaners) voorspoed, vrede en vooruitgang sou beteken, is as vals bewys. Die Afrikaanse kerklike en intellektuele verdediging van wit bevoorregting blyk vals profesieë te gewees het. Baie Afrikaners ly aan ’n politieke geheueverlies en sê dat hulle “eintlik nooit apartheid ondersteun het nie”.

Traumatiese oorlogsgebeure kan makliker verwerk word as jy die stryd gewen het en dit regverdig was. Dink maar aan Brittanje se stryd teen Nazi-Duitsland: Op 11 November elke jaar word die helde en slagoffers deur die Britse establishment gevier en geëer. Die apart­heids­troe­pies kry nie dié erkenning nie — eerder verguising deur die nuwe orde en geheueverlies van die wit mense wat die NP- bewind ondersteun en die Grensoorlog gefinansier het.

Dat Afrikaner-generaals Afrikaner-ministers van weleer nou uitkryt oor hul optrede onder die NP-bewind is koddig. Die generaals en ander senior offisiere van die Grensoorlog is ewe verantwoordelik vir die trauma van die troepe as die politici wat die droom van ’n apartheidstaat verkondig en probeer uitvoer het.

Talle senior offisiere het hartlik meegewerk aan die totale-aanslag en die soek van kommuniste agter elke bossie; aan die anti-kommunistiese psigose wat onder die “volk” staangemaak is. Hulle was gewillige meelopers van die NP-regering. Na my mening het die SAW se topbestuur die NP-politici beredeneerd aangepor (banggepraat?) om groot geld aan verdediging te bestee en op die kommunistiese gevaar gehamer om die doelwit te bereik. Voorts het die SAW die diplomatieke inisiatiewe van NP-politici soos Pik Botha, Dawie de Villiers en F.W. de Klerk dikwels ontwrig en verdag gemaak. Die beweerde wildstropery op die Angolese grens deur SAW-lede strek dit net so min tot eer soos ’n na bewering aangeklamde NP-minister en fuifende NP-politici. Asof ’n dop of drie en ’n aangeklamde senior SAW-offisier tydens die Grensoorlog ’n rariteit was.

Wat is die les? Pasop vir iemand wat aan jou ’n politieke, ekonomiese of sosiale droom- wêreld wil verkoop. Die uiteinde daarvan is sonder uitsondering ontnugtering en pyn.
- Prof. Albert Venter is emeritus- professor aan die Universiteit van Johannesburg.

Documents

    No Documents added

Images