Die Ebo projek

Revised: September 03, 2009 Tags:

Die Ebo projek

Die Ebo projek het ten doel het om die menslike oorskot van vier gesneuwelde SAW-lede in Angola te laat opgrawe en na die RSA te laat terugbring.

Drie van hulle se oorskot sal in nisse in die Muur van Herinnering by die Voortrekkermonument geplaas word, terwyl die vierde een s’n saam met die res van sy familie se oorskot in Riebeeck-Kasteel geplaas sal word.

Die drie is gedood toe hul verkenningsvliegtuig op 25 November 1975 naby die dorpie Ebo in Angola deur Kubaanse lugafweergeskut afgeskiet is, terwyl die vierde lid gesneuwel het toe sy pantserkar op 23 November 1975 buite Ebo uitgeskiet is.

‘n Gesindheidsverandering laat vordering plaasvind

Nadat daar aanvanklik geen vordering gemaak is om goedkeuring te verkry vanaf die SA en die Angolese owerhede om met die projek voort te gaan nie, het daar, na die stigting van die Ebo trust en die formalisering van die skakelkanale met die owerhede, wel mettertyd ‘n gesindheidsverandering begin intree, op voorwaarde dat die trust self die fondse vir die projek vind.

Laasgenoemde. het die afgelope week gekulmineer toe president Zuma die aangeleentheid met sy Angolese eweknie, president Dos Santos, bespreek en sy ondersteuning vir die projek verkry het.

Pres Zuma het nou aangedui dat hy die afhandeling van die saak aan een van sy Ministers sal opdra (ons weet nog nie watter een nie en presies wat hy daarmee bedoel het nie), maar volgens aanduidings behoort die saak nou “vinnig” in ‘n rigting te kan begin beweeg (as dit nie weer deur rompslomp vertraag word nie!).

Die Ebo trust en professionele span staan gereed

Intussen kan bevestig word dat die Ebo trust en die professionele span gereed staan om op kort kennisgewing met die uitvoering daarvan voort te gaan en dat die Trust homself beywer dat ons die oorskot terug moet hê in die RSA sodat dit DV op 25 Oktober, wanneer die nuwe SAW Muur van Herinnering op die Voortrekkermonument Erfenisterrein ingehuldig word, in die nisse geplaas kan word.

Dankbaarheid oor bydraes wat reeds gemaak is

Baie dankie aan almal wat reeds só mildelik bygedra het tot die Ebo Projek, as gevolg waarvan die Trust reeds ongeveer R175 000,00 kon insamel.

Graag word ‘n beroep gedoen op almal wat eers gewag het om te kyk of die projek ooit ten uitvoer sal kom alvorens hulle ook ‘n bydrae doen, om assseblief nie langer daarmee te verwyl nie.

Rekeningbesonderhede vir bydraes

Enige bydraes kan inbetaal word in die lopende rekening van die Ebo Trust, Absa Brooklyn, takkode 632005, rekeningnommer 9208 178 694.

Dit sal waardeer word indien u ‘n afskrif van die inbetalingstrokie kan faks aan 086 615 9587, asb.

Bydrae:Generaal Gert Opperman van die Ebo trust

Documents

    No Documents added

Images