Ek is nou gatvol van huil

Revised: November 28, 2010 Tags:

Angola se riviere voed die lewe, maar is dikwels ook landmerke van die dood.

So was dit by die samevloei van die Cuito- en die Cuanavale-rivier, waar die bloed van duisende verspil is bloot om die Kubaanse en Angolese magte op die westelike oewer van die rivier te kan vaspen.

En só was dit by Savate op die oewer van die Cubangorivier — die laaste bestemming op die reis van genesing en versoening van die groep Suid-Afrikaanse veterane van die Bosoorlog.

Op die lang pad na Cuito Cuanavale het ons dae lank ooswaarts deur die stukkende landskap van oorlogswrakke en mynvelde gery. Op hierdie laaste skof in Angola draai ons skerp suidsuidwes, al langs die blou aar van die Cubangorivier, wat ons uiteindelik terug na die Namibiese grens sal lei.

Maar eers stop ons by Savate, waar 32 Bataljon, een van die top- operasionele eenhede van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag, sy donkerste dag beleef het.

32 Bn. het 150 soldate — swart en wit — verloor in gevegte tydens die Bosoorlog.

Vyftien van hulle (ses wit en nege swart soldate) het op 21 Mei 1981 in ’n enkele, bloedige dag gesterf in die aanval op die Angolese basis by Savate.

Kyk jy na die klompie eenvoudige grashutte in die middel van nêrens gaan dit jou verstand te bowe waarom mense juis hier geveg en gesterf het.

Die eenvoudige antwoord is waarskynlik die Cubangorivier self: Mens en dier het water nodig. Militêre basisse in Angola word dus waar moontlik naby water gebou.

Die bitter ironie van 32 Bn. se bloedige dag by Savate is dat die operasie geen strategiese nut vir die Suid-Afrikaners ingehou het nie. Dit is gedoen op versoek van Unita.

En dit was weens Unita se swak intelligensie dat die relatief klein Suid-Afrikaanse mag hom vasgeloop het in honderde meer Angolese soldate as wat hy verwag het.

Dit was ’n oorwinning, ja — maar die prys was baie hoog.

Louis Bothma, 32-veteraan en skrywer (hy het nie by Savate geveg nie), vertel: “Nadat hulle die basis vir Unita gevat het, het Unita dit net vir ’n kort tydjie beset voordat hulle weer padgegee het — so waarvoor was dit alles?”

Onder ’n boom het José Cambuandi, MPLA-administreerder van Savate, die laaste eertydse Angolese vyand geword wat op hierdie reis ’n kruis van versoening en ’n hand van vriendskap van die Suid-Afrikaanse veterane ontvang het.

Cambuandi het Camille Burger se kaart van die operasie gevra, “want ek het nooit geweet wat presies hier gebeur het nie. Ek wil die verhaal aan almal vertel”.

Die slagveld van Savate was daardie aand ook ons laaste staanplek in Angola. Hier het die Suid-Afrikaners en die plaaslike inwoners saam gewas en geswem in die pragtige Cubangorivier — of in ’n simboliese ritueel van genesing.

Die volgende oggend het ons die grens oorgesteek na Rundu en die lang vinger van Namibië bekend as die Caprivi-strook.

By Rundu het die uiterlik rustige Jaap Steyn, wie se groot hande altyd besig was om te kerf aan ’n stuk optelhout om vir iemand ’n aandenking te skep, sy eie hartseer gedeel oor sy pa wat gesterf het terwyl hy op ’n operasie in Angola was.

En hier het Roland de Vries droogweg opgemerk: “Ek is nou gatvol om te huil.”

Maar net ure later was daar weer trane. Tussen die bouvalle van 32 Bn. se ou Buffalo-basis en die omgevalle wit kruise op die sowat 500 grafte van swart 32 Bn.-soldate en hul familie.

Hier is die laaste kruis van die veterane se pelgrimstog gelaat.

En by ons vertrek het ’n olifantbul met waarskuwende lyftaal gewys dié voormalige plek van oorlog behoort nou weer aan die bos.

Soos dit hoort.

  • Louis Bothma, skrywer van Die buffel struikel , werk aan ’n nuwe boek, Anderkant Cuito , wat die groep Bosoorlog-veterane se reis terug na Angola meer omvattend sal beskryf.
  • Nog ’n toerlid en veteraan, Efpe Senekal, werk aan ’n dokumentêre rolprent.
  • Genl.maj. Roland de Vries, ’n voormalige bevelvoerder van 61 Meg Bn. en ’n oudadjunkhoof van die leër, werk aan ’n manuskrip vir ’n moontlike boek oor die Bosoorlog.

Deon Lamprecht – Rapport

Documents

    No Documents added

Images