Hoekom al die gewroeg?

Revised: November 04, 2011 Tags:

Soos die meeste wit mans van my geslag lees ek graag oor die “Bosoorlog”. En volg die kanniedood-debatte wat vandag, meer as 30 jaar later, steeds daaroor woed.

Die Groot Generaal in die wolke sal ’n hele generasie wit Suid-Afrikaners moet oproep voordat die intensiteit van dié debatte oorwaai. Dis so met alle oorloë.

As kind moes ek baie na stories oor die Anglo-Boereoorlog luister. Dit was destyds ietwat vervelig; Ouma se oorlog. Belangstelling in die Anglo-Boereoorlog het ek betreklik laat in my lewe herwin.

Met my kinders het ek nog nooit oor die Bosoorlog gepraat nie. Hulle het ook nog nooit gevra “nou wat het jy eintlik in die oorlog gedoen?” nie. Duidelik nie “hul” oorlog nie.

Afgesien van een driemaande-kamp in Ovamboland in die burgermag het ek nooit regtig “geveg” nie. Al “aksie” wat ek destyds gesien het, was ’n Eland-pantservoertuig wat ’n landmyn afgetrap het. ’n Agterwiel was morsaf.

My een broer was ’n jaar lank ’n infanteriebevelvoerder in Ovamboland. Hy is minstens een keer byna doodgeskiet en was in verskeie “kontakte”. Het heel moontlik self mense doodgeskiet of byna doodgeskiet.

Ons volg die debatte oor die Bosoorlog en gesprekke daaroor. Sonder dat dit ’n issue is.

Dis maar hoe dinge destyds gewerk het. Jy is opgeroep en jy het gegaan. As jy geweier het, het ses jaar tronkstraf gewink.

Nooit het ons gedink: “Wonderlik, nou gaan ons lekker swart mense en kommuniste skiet!”

Selfs in ’n kontak het jy nie aan die velkleur gedink van die ou wat op jou skiet nie. Net aan oorlewing. Dis of jy of die ander ou, het Boet altyd gesê. (Nogal soos in rugby.
Oukei, net ’n bietjie!)

In elke generasie onmiddellik ná ’n oorlog word gevra: Was dit nou alles die moeite werd? Al dié verwoesting, al die mense wat dood is?

Bes moontlik het Geallieerde soldate in die 1950’s en 1960’s gewonder hoe dit gebeur het dat hulle teen Nazi-Duitsland geveg het, maar Wes-Duitsland ná die oorlog ’n Westerse bondgenoot geword het. En die Russe, wat saam teen die Nazi’s geveg het, word die vyand!

Ná die Viëtnam-oorlog het die Amerikaners die goudstandaard gestel vir ’n ná-oorlogse gewroeg, met ’n eindelose stroom boeke, flieks en dokumentêre.

’n Paar boeke en flieks het reeds verskyn oor die hedendaagse oorloë in Irak en Afganistan. ’n Stortvloed kom nog. Moet sê, as ek in daardie oorloë geveg het, sou ek ook nogal wou weet wat nou eintlik bereik is — die wêreld lyk na ’n oneindig onveiliger plek daarna as daarvoor.

Dit terwyl óns Bosoorlog ’n in­tegrerende deel was van die uiteindelike oplossing van die groot politieke vraagstuk in Suider-Afrika.

Hier het dit die besef laat insink dat die konflik in Suid-Afrika polities opgelos sou moes word en nie militêr nie. Ek is in die skool wat vas glo die ou SAW, met wie ek altyd ’n haat-liefde-verhouding sal hê, het die stryd op die slagveld beslissend gewen. Maar dit was ’n onvolledige oorwinning omdat die finale veldslag altyd in die politieke arena beslis sou word. En dáár het ons nie heeltemal gewen nie. Maar ook nie alles verloor nie. Een groot “veldslag” is egter gewen — deur albei kampe, as ek die anomalie gegun word.

Die groot politieke vraagstuk wat die konflik in?die eerste plek veroorsaak het, is opgelos. Mense het vry geword, al is dit net in teorie. Institusionele diskriminasie, die nare dinge wat in wetboeke gestaan het, het verdwyn. Suid- en Suider-Afrika was nie meer ’n “global flash­point” nie. Soos wat Israel/Palestina vandag, ná al die jare, steeds is.

Sonder ’n sweempie van ’n vooruitsig op ’n oplossing in my leeftyd.

SA is vandag ’n geknelde land. Dis ver van seker dat ons die pyp sal rook. Maar ons Groot Politieke Geskil is besleg. Onder meer danksy die Bosoorlog. Nie ondanks nie.

Tim du Plessis – Beeld

Documents

    No Documents added

Images