HP Ferreira, die drywer van Ratel 21 tydens Operasie Sceptic in 1980, se storie wat hy vertel het tydens die 61 Meg Veterane se ete op 10 Junie 2009 by Fort Schanskop

Revised: April 25, 2010 Tags:

Inleiding

Ek is nie ‘n groot spreker nie, maar ek moet iets sê en dit is in my hart wat ek vandag wil sê. Dit is ‘n voorreg om hier te wees vandag.

Soos julle gehoor het vandag, ek het ‘n paar skote gevat tydens Operasie Sceptic en is opgeneem in die hospitaal. En daar het ek geleer sonder dat ek bewus was daarvan dat hierdie ouens wat ‘n ou rondneuk, gaan die toekoms vir jou beter maak. Dis die bevelsgroep wat ons gehad het daar. Ek waardeer dit vandag.

Ek is gewond tydens Operasie Sceptic in 1980

Ek was in Operasie Sceptic gewees, ons doelwit was Smokeshell.

Ek is gewond, daai chopper het my kom optel. Ek het wakker geword in Pretoria.

Ek was van 1980 af amper tot in 1982 in die hospitaal gewees. Dit was hard maar ek het nie besef wat in my lewe eintlik gebeur nie. Ek het baie operasies gehad. Die afgelope Desember wat verby is het ek die 89ste keer narkose gehad.

Daar is Iemand groter as wat ons besef

Wat vir my wonderlik is, is dat daar is Iemand groter as wat ons besef.

Ek het na hierdie skietwonde kanker gehad. Ek is genees daarvan, ek het in 2002 gangrene in altwee my bene gehad, maar hier staan ek vandag.

Die geel motiveringskaartjie wat ons tydens die operasie in Angola gekry het

Een ding wat my nog al die jare dra, is daai geel kaartjie wat kommandant Dippenaar vir ons laat uitdeel het in Angola tydens die operasie.

Dit was ‘n ondertekende boodskap van die bevelvoerder waarop die woorde van 2 Timotheus 2 was: “Jy dan my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is”.

Die woorde “Die tyd is nou! Vir jouself, vir jou makkers, jou veggroep, jou land en volk, jou God” het ook op die kaartjie gestaan.

Ek sal daai dag nooit vergeet wat ek gelees het nie. Dit het my bygebring, deur al daai narkoses, al daai operasies.

Ons makkers moet daar wees vir mekaar

Ek kon dit nie verstaan hoekom ek nooit negatief geraak het nie, hoekom ek elke oggend uitgesien het na ‘n nuwe dag. Ek het net besef dat ‘n mens kan vir ander mense iets beteken, al is jy stukkend.

En ek het waardering vir dit wat Tony Op’t Hof en Marco Caforio, ‘n makker wat saam met my gebloei het, vir my beteken het deur die jare.

Dit wat vandag hier gebeur is, mens kan dit nie beskryf nie.

Marco Caforio, ek kan nie onthou hoeveel jaar terug nie, was een jaar saam met ons op die 10 de Junie by 1 SAI bymekaar gewees. Ons is ‘n groep veterane van Operasie Sceptic wat al vir ‘n geruime tyd elke jaar op 10 Junie by 1SAI bymekaar kom. Toe wou Marco niks weet nie, hy het gesê, eerlik, ons tyd is gemors. Marco was eenkant en ek het net besef dat as ons met Marco kan praat, dit gaan sy lewe draai. Tony Op’t Hof kan saam met my stem hieroor.

Die volgende jaar was Marco een van die eerste ouens daar. Pamela, sy vrou, sê toe vir my: “HP, ek het ‘n nuwe man”.

Dit is die eerste keer na al die jare wat Marco met iemand kon praat oor dit wat gebeur het met ons tydens Operasie Sceptic. Dit is die eerste keer wat hy sy hart kon oopmaak. Soos julle almal weet, jy kan nie jou hart oopmaak teenoor ouens wat nie daar was nie. Julle was in verskillende tye daar en op verskillende plekke gewees.

Ek dank my Hemelse Vader dat ek vandag hier kan staan

En ek wil net die voorreg gebruik om vandag net vir ons Hemelse Vader te sê, dankie dat hy my die voorreg gee om hier te kan staan. Ek weet nie wat my doel op aarde is nie maar ek glo die dag sal nog kom dat ek dit sal bereik. Net Hy alleenig weet.

Ek hoop en vertrou dat ons almal as vriende verder kan groei. En baie dankie vir die voorreg.

Hy was daar toe my liggaam stukkend was…… ek sê net, ‘n ou kan met ‘n stukkende vlees hemel toe gaan, maar nie met ‘n stukkende gees nie. So ek dank ons Heer God hiervoor. Baie dankie.

Wat gebeur het toe ek gewond is tydens ons aanval

Paul Louw was ons peletonbevelvoerder gewees, en ek was die drywer van ons peletonhoofkwartier se Ratel met die roepsein 21.

Wel, ek kan onthou ons was die voorste voertuig gewees. Daarso was merke gewees, daar was ‘n paadjie waar ons moes afdraai. Die peletonbevelvoerder, Paul Louw, was bevelvoerder in my Ratel se toring gewees en ons het afgedraai.

In daai stadium was ‘n ou maar op jou senuwees, jy het nie geweet wat gaan gebeur nie. Omtrent, Paul het gesê, 400 meter dan moet ons vuur trek, 200 en iets meter, toe trek ons vuur.

En ek weet ons was met my voertuig vorentoe en ons is deur die basis. Ons het omgedraai in die basis en die vuur het net al meer en meer geraak en die volgende oomblik wat ek toe nou agter kom toe is my voertuig aan die brand.

Ons Ratel was uitgeskiet

Ek kon onthou ek het die Ratel se deure oopgemaak, maar ek kon nie uitkom uit die drywersitplek daar voor nie.

Loubser, ons seiner, het skuins lanks my gesit op daai trappie. Ek kon sien hy was dood. Ek het hom probeer uitkry, maar ek kon nie. Toe het die ammunisie in ons Ratel begin afgaan. Ek weet self nie hoe ek daai toring weggekry het nie, maar ek was deur die drywer se hatch sonder dat ek enige wapen of iets by my gehad het.

Ek het in dekking ingegaan en Paul het vir my gewys ons moet gaan vir die vyand se lugafweerkanon. Hy het vir my gewys, ek het dit gesien en toe ek opstaan toe is die ander lugafweerkanon hier voor my. Dit is toe ek gevoel het ek val, ek het net gesien die ou kyk vir my en die volgende oomblik toe het ek gelê.

Daarna het ek bietjie reggekom en toe ek weer beweging voel, toe skuif ek weer en toe het hulle my gegryp en na die mediese Ratel toe gesleep. Ek weet nie hoe lank dit gevat het nie. Ek weet nie presies wat het gebeur nie, dit is sulke flitse wat terug kom na ‘n ou toe.

Ek trou toe met ‘n nurse

Wel, toe ek uit die hospitaal kom toe moes ek nou vir my ‘n nurse vang, want ek was redelik onstabiel gewees en bietjie vol gate. So, ek het besef, kyk ek sal nie dit alleenig maak nie. Ek moet maar iemand kry wat die trade ken, jy weet om ‘n ou toe te plak en party keer lief te hê ook, jy weet.

God doen nog ‘n wonderwerk

So met my skietwonde is ek op ‘n plek geskiet wat ek nie sou kon kinders hê nie.

Ek het my vrou vertel, sy het dit aanvaar, en wonderwerke gebeur. Toe ons vier jaar getroud was toe sê ons miskien moet ons ‘n kind aanneem.

Ek sê toe die Here gaan vir ons kinders gee en drie weke later toe is my vrou swanger. Daar sit my seun, Henk. Ek het ‘n meisiekind ook, sy is twee jaar jonger as Henk. Die Here is wonderlik vir my.

Ek moes weer teruggaan hospitaal toe

Ek het teruggekom hospitaal toe vir verdere behandeling. Ek het baie ook kom kuier vir die mense wat in die hospitaal was. As ‘n ou in die hospitaal was en jy haas nie daar om weg te gaan nie, dan wil jy nie huis toe gaan nie. Dan moet jy weet jy was lank in die hospitaal.

En ja, ek moet eerlik sê die behandeling wat ek gekry het in die hospitaal, die dokters, mediese personeel. Ek glo nie in die wêreld was daar sulke mense gewees nie. Ons het van die beste gehad.

En oom Dippies, soos ek hom nou maar noem, het my kom besoek hier in 1 Mil, hy het my kom besoek in Bloemfontein waar ek getroud is, baie kere en daarvoor het ek baie waardering, want ek was maar ‘n troep gewees. Hy was ‘n bevelvoerder gewees en daar het ons geestelik geconnect.

Tot vandag toe sal ek dit nooit vergeet nie. Dankie oom Dippies.

Nadat HP Ferreira sy storie vertel het, het Johann Dippenaar, die bevelvoerder van 61 Meg Bataljon Groep tydens Operasie Sceptic, ook die volgende bygevoeg

Die hospitaal het al my besonderhede gehad om vir HP in die hande te kry.

As HP hospitaal toe gegaan het, dan het hy daar aangekom met sy rystoel. Dan gaan hy daar na saal 13 toe, die saal waar al die beseerdes en die verminktes was .

Dan kry hulle vir HP dan klim hy in daai rystoel, dan sê hy: “Julle ander outjies in julle rystoele, kom ek wys julle”.

Dan jaag hulle in daai gange af en dan gryp hy daai wiel vas, dan spin hy so in die rondte met die rolstoel.

Dan sê hy: “Wie kan my nadoen?”

Hy het daai klomp mense opgelig. Hy was ‘n motiveerder vir daardie hospitaal. Hy het die ouens aan die “go” gehou.

Documents

    No Documents added

Images