Jaarlikse herdenkingsdiens op Sondag 3 Junie 2012 by die SAW Muur van Herinnering

Revised: January 15, 2012 Tags:

Agv die gereelde navrae en die ooglopende opwinding wat vir die jaarlikse herdenkingsdiens by die SAW Muur van Herinnering beleef word, word graag herhaal dat dit vanjaar om 09h00 vir 09h40 op Sondag, 3 Junie (die Sondag naaste aan 31 Mei) sal plaasvind. Volgens aanduidings gaan dit waarskynlik weer deur ’n afvaardiging van veterane uit Australasië bygewoon word, terwyl verskeie bonde en veterane-assosasies reeds navraag gedoen het om ook weer groter afvaardigings te laat bywoon en deelname te verseker. Daar sal nietemin, soos verlede jaar, weer vir slegs een krans of kruis per organisasie voorsiening gemaak word, ten einde voorkeur aan naasbestaandes te gee en die verrigtinge nie onaanvaarbaar lank te laat uitrek nie.

Daar sal vanjaar weer verskeie nuwe inisiatiewe by die Muur wees, o.a, die bekendstelling van ’n erepaneel waarop die name sal verskyn van alle SA Weermag-lede aan wie dekorasies vir dapperheid (Honoris Crux en ook ander) gedurende die tydperk van ongeveer 31 Mei 1964 tot ongeveer 27 April 1994 toegeken is. Dit sal, sover bekend, die enigste plek in die land wees waar erkenning aan hierdie helde gegee word en daarom sal daar ook ’n spesiale uitnodiging aan soveel as moontlik van die oorlewende ontvangers gerig word om by te woon.

Die formele uitnodigings sal eers later uitgestuur word en u hoef derhalwe nie nou reeds op hierdie kennisgewing te antwoord nie. Dit sal nietemin waardeer word indien u die name kan deurstuur van persone wat u vir ’n persoonlike uitnodiging wil voorstel, asook die kontakbesonderhede van die ontvangers van dekorasies van dapperheid.

Duidelikheidshalwe word graag bevestig dat die Erfenisstigting ingestem het om die verantwoordelikheid vir die SAW Muur van Herinnering en die gepaardgaande Beeldetuin namens die Voortrekkermonument se bestuur te bly hanteer. Enige navrae in hierdie verband kan derhalwe steeds aan skrywer gerig word.

Vriendelike groete

Gert Opperman
Besturende Direkteur
Die Erfenisstigting
Tel: 012 – 326 6770
Sel: 083 300 4580
Faks: 086 615 9587
www.erfenisstigting.org.za

Documents

    No Documents added

Images