Kom skuur skouer saam met manne wat verstaan

Revised: October 26, 2012 Tags:

‘n Groot reaksie op die program ‘n Lewe met … Grensoorlog

Nadat die program ‘n Lewe met …Grensoorlog uitgesaai is op 18 Oktober 2011 op Kyknet, was daar ontsettend baie navrae gewees van makkers asook makkers se naasbestaandes wat behoefte het om deel te word van ‘n konstruktiewe proses om te deel met issues wat hulle dalk keer om die lewe ten volle te leef.

Paul Louw, wat op negentienjarige ouderdom ‘n peletonbevelvoerder was tydens Operasie Sceptic in Junie 1980, het in hierdie program eerlik gepraat oor hoe sy lewe beinvloed was deur die trauma om tydens ‘n skermutseling met die vyand 12 lede van sy peleton aan die dood af te staan en waar 17 ander peletonlede gewond is, en hoe dit hom meer as 28 jaar geneem het om homself te vergewe vir iets wat nie eers sy skuld was nie. Paul se kwesbare eerlikheid het baie mense diep getref, en het mense aan die praat gesit.

En dit is juis wat ons veterane nodig het — ‘n veilige plek waar ons kan kuier en gesels met ander manne wat ook daar was en wat verstaan wat dit was om daar te wees.Dit gaan nie oor grensvegterstories nie, maar dit is darem maar lekker as iemand verstaan as ‘n mens praat van Omuthiya, Cuito Cuanavale , operasies, seven days, Ratels, Noddykarre, kanondonkies, G5 kanonne, insypelings, casevacs, wegstaanbestokings, gatkruippatrollies, Rooikopbasis, Lohathla en harde opleiding.

Ons familie, gesinne en vrouens sukkel baie keer om te verstaan wat ons daardie tyd beleef het want ons Armylewe is ‘n vreemde wereld vir hulle, maar of hulle verstaan of nie, op n indirekte manier het daardie tyd se ervaringe tog ook ‘n impak op die mense die naaste aan ons

Waar is die manne wat sal verstaan?

Die 61 Meg Veteranevereniging het reeds drie jaar terug begin om skouerskure te reel waar die 61 Meg veterane veterane genooi word om in verskillende streke bymekaar te kom en saam te kuier, en in die proses is daar al hegte bande gevorm tussen die manne wat die moeite gedoen het om so in te skakel. Makkers het mekaar weer vir die eerste keer sedert diensplig gesien, en al is hulle nou ronder en onfikser as toe hulle mekaar laas gesien het, bly dit ongelooflik hoe die jare wat verby is uitgewis word asof ‘n mens weer agtien jaar oud is.

Baie van die makkers was aan die begin maar eers huiwerig gewees om te gaan kyk wat gebeur by ‘n skouerskuur, maar as hulle eers hulle visums by hulle vrouens gekry het om ‘n skouerskuur by te woon en deur daardie aanvanklike weerstand teen die onbekende gebreek het en die ander veterane ontmoet het wat ook daar opgedaag het, dan word ‘n skouerskuur ‘n geleentheid om nie te mis nie.

Die skouerskure word so gereel dat die makkers by ‘n bomgat van die Moths bymekaarkom, en baie kere reel die skouerskuurfasiliteerder ook dat daar ‘n vuur is en dan gooi die manne vleis en wors op die kole vir ‘n lekker saamkuier en ete. Party fasiliteerders reel potjiekos teen ‘n nominale bedrag en dan eet die manne in styl. Ons het nou ook begin om ‘n program aan te bied by die skouerskure waar Roelf Schoeman met die manne praat oor post traumatiese stres, en dit sit die manne ook lekker aan die gesels want ons elkeen het die Army op sy eie unieke manier beleef.

Wat as ek nie deel was van 61 Meg nie?

Ons sien ‘n 61 Meg veteraan as enige iemand wat deel was van 61 Meg, of wat saam met 61 Meg deelgeneem het aan ‘n operasie en/of oefening. Tydens die grensoorlog byvoorbeeld was baie valskermsoldate afgedeel na 61 Meg toe, en ons verwelkom hulle ook as 61 Meg veterane. Ons wil eerder inklusief as eksklusief wees as ons praat van 61 Meg veterane.

As jy nie deel was van 61 Meg nie, is jy nog steeds welkom om ons skouerskure te kom bywoon. Jy kan op ons website ‘n 61 MECH SUPPORTER word as jy wil en dan kan jy ook die 61 Meg Veteranevereniging se keps en golfhemp dra, en dit maak nie saak waar jy diens gedoen het nie, ons sal jou verwelkom by ons skouerskure. En as jy nie aansluit as 61 MECH SUPPORTER nie, maak dit ook nie saak nie. Jy bly welkom.

Wanneer hou ons die skouerskure?

Ons het baie geleer die afgelope paar jaar oor die dinamika van die skouerskure, en ons probeer nou om ‘n maksimum van 4 skouerskure per jaar in ‘n streek te hou. Ons sal teen die einde van die jaar probeer om die datums vir elke streek se skouerskure vir volgende jaar op die webblad te publiseer.

Dit is ook vir ons belangrik om behoorlike struktuur te gee aan die skouerskure, en die vegspanleiers wat die skouerskure fasiliteer doen baie moeite om ‘n behoorlike program aan te bied. So byvoorbeeld wil ons sorg dat Roelf Schoeman met sy aanbieding oor post traumatiese stres teen die einde van volgende jaar by al die streke se skouerkure uitgekom het, dwarsoor die land.

Ons voel baie sterk daaroor dat die skouerskure nie ‘n drinksessie moet wees nie, want dan mis ons die doel daarvan totaal en al en dit veroorsaak ook dat mammie stomstreke speel as ons by die huis aankom.

Waar is die naaste skouerskuur wat ek kan bywoon?

Ons is baie dankbaar vir die manne wat hulleself bereidwillig verklaar het om die skouerskure dwarsoor die land te fasiliteer, en sonder hulle opoffering sal dit beslis nie moontlik wees nie.

Jy kan die volgende persone kontak as jy meer wil weet oor die skouerskure in die verskillende streke:

Wes Rand in Johannesburg — Mike Beyl by zenocara@gmail.com
Oos Rand in Johannesburg — Jaco Swanevelder by jaco@thrifty.co.za of Graham Dickson by grahamd@metallandspartan.co.za
Sentraal Johannesburg (Parkhurst) — Simon Abbot by abbott821@gmail.com of Marco Carforio by 0843977979
Pretoria — Pierre Jacobs by PJacobs@datacentrix.co.za
Port Elizabeth — Brian James by bjames@bwt.co.za
Kaapstad — Brent Abrahamse by brent.abrahamse@sanlam.co.za
Bloemfontein — Reg Walkerley by reg@xworx.co.za
George/Mosselbaai — Paul Louw by polow@mweb.co.za of Gert Minnaar by gert.minnaar@itpossible.co.za

Documents

    No Documents added

Images