‘Miskien het God besluit dié brug moes nie val nie’

Revised: September 22, 2011 Tags:

By die brug oor die Cuito-rivier rapporteer genl.maj. Roland de Vries aan genl. Jannie Geldenhuys: “Ons het Cuito Cuanavale gevat uit ’n westelike rigting… Ons is op die doelwit.”

Eenkant, op die oostelike oewer van die Cuito, lê die uitgebrande wrak van ’n Russiese gevegsvoertuig, aan die westekant ’n vernietigde mobiele lugafweer-kanon.

Minute tevore het De Vries soldate van Suid-Afrika se 61 Gemeganiseerde Infanterie Bataljon, 32 Bataljon en die Spe­siale Magte oor die staalbrug — die poort na Cuito Cuanavale — gelei.

Geldenhuys het net gelag oor dié oproep, het De Vries later vertel. Want die datum is 23 Oktober 2010, meer as 22 jaar nadat die kanonne stil geword en die laaste Suid-Afrikaanse, Kubaanse en Angolese bloed hier gevloei het.

De Vries, destyds ’n kolonel en een van die top-bevelvoerders op die slagveld, dra nie meer ’n uniform nie. Geldenhuys is nie meer die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag nie.

Die konvooi wat De Vries oor die brug gelei het, bestaan uit veterane van die Bosoorlog. Hul “gevegsvoertuie” is vier Land Cruisers en ’n Toyota-bakkie, nie Ratels bewapen met 20mm-snelvuurkanonne nie.

’n Mens sou De Vries se oproep na Geldenhuys vanaf die brug by Cuito Cuanavale seker as galgehumor kon bestempel. Immers is daar baie bloed, te veel, in 1987 en 1988 vergiet in ’n reeks veldslae in die suidooste van Angola, wat later gesamentlik as die Slag van Cuito Cuanavale bekend sou staan.

Maar vir die groep veterane op die laaste skof van hul emosionele reis terug na die ou slagvelde in Angola, het De Vries se oproep gesorg vir ’n welkome ligte oomblik daar op die oewer van die Cuito-rivier.

De Vries se tong was egter net halfpad in sy kies. Want op die lang pad tot hier het hy die sê-nou-maar-net-vraag in sy eie gemoed hardop bewoord: Sê nou maar net die Suid-Afrikaners hét Cuito Cuanavale van die noordweste af aangeval — soos hy en ander bevelvoerders op die grond destyds voorgestel het — eerder as om die dorpie uit die ooste te benader (soos die top-generaals vermoedelik op aandrang van die politici besluit het)? Dié plan het tot gevolg gehad dat die Suid-Afrikaners hul “koppe tevergeefs teen die aambeeld gestamp het”, soos De Vries dit stel.

Loop ’n mens in die vervalle hoofstraat van Cuito Cuanavale lyk die dorp allermins soos ’n aambeeld wat die hamerhoue van Suid-Afrikaanse G5-kanonkoeëls weerstaan het.

Dis ’n stukkende dorp. Die geboue is gevlek met die dodelike aknee van skrapnel. Bouvalle dien as gemeenskaplike toilette en die verroeste tenk van ’n ou militêre waterlorrie dien as ’n stort.

Kyk jy vanuit enige plek in die dorp na die ooste kan jy duidelik die hoë terrein sien van waar die Suid-Afrikaanse kanonne dag ná dag die Kubaanse en Angolese verdedigingstelsels bestook het.

En jy ril. Want niks wat beweeg in Cuito Cuanavale sou die skerp oë van die Suid-Afrikaanse artillerie-waarnemers kon ontglip nie, ook nie op die sanderige dorpsplein waar ons kamp opslaan nie.

Aan die westekant van die dorp, op die pad vanaf die Kubaans/Angolese lewensaar wat die Suid-Afrikaanse gemeganiseerde kolonne destyds in twee sou gesny het as De Vries sy sin gekry het, verrys ’n nuwe reuse-gebou oor die landskap.

Dis die oorlogsmuseum van Stalinistiese afmetings wat die Chinese hier bou.

Nadat De Vries by die brug oor die Cuito-rivier sy oproep aan Geldenhuys gemaak het, was hy oënskynlik gelate. Vredig. Maar tydens sy voorligtingsessie in Menongue, ons laaste halte vóór Cuito, was daar staal in sy oë toe hy praat oor die opsie van ’n westelike aanval.

Vir De Vries, wat ’n groot rol gespeel het om die doktrine van mobiele oorlogvoering met Ratel-gevegsvoertuie (spoed, slaankrag en konstante beweging) te vestig, was die weste­like roete die kortpad na die vyandelike hoofslagaar.

Die terrein was geskik vir die mobiele oorlogvoering waarin 61 Meg gekonfyt was. Die kans was daar, glo hy, om die Kubaanse en Angolese magte in en om Cuito te isoleer en te vernietig. Maar toe De Vries die westelike aanvalsplan aan die generaals voorlê, het laasgenoemde besluit daar moet uit die ooste aangeval word.

Die gevolg van dié besluit, volgens De Vries, was dat die Suid-Afrikaners — nadat hulle die Kubane en die Angolese oortuigend by die Lomba-rivier verslaan en na Cuito Cuanavale teruggedryf het — ingesuig is in ’n statiese oorlog eerder as die Blitzkriegwat hulle verkies het.

Cuito Cuanavale, waar die Kubane inderhaas hul modernste wapentuig en tienduisende soldate ontplooi het om die vuisvoos Angolese weermag te red, het keer op keer die aanslag van die Suid-Afrikaners weerstaan.

“Ons het hulle bloedneus geslaan… maar ons was net te min om dit vol te hou.”

Hy is in ’n stadium verbied om 61 Meg, die ystervuis wat hy help bou het, verder in die geveg aan te wend omdat die jong dienspligtiges bloot te uitgeput was.

In hul plek is die jong gemeganiseerde infanterie-kompanies van 4SAI in die stryd gewerp om aan te hou aanval teen ’n oormag “totdat die soldate so moeg was dat hulle op die grond omgeval en geslaap het net waar hulle was, geweer in die hand”.

Hoekom wou die generaals nie instem tot die westelike aanvalsplan nie?

Volgens De Vries: “Ek glo die generaals (lees: die politici) was bang die oorlog sou nog verder eskaleer as ons wes gegaan en Cuito gevat het.”

En hy onthou ook die slegte nuus wat gekom het terwyl hy in Rundu gereed was om sy westelike aanvalsplan voor te lê: Die nuus van Koos Moorcroft en sy mede-recces se bloedige dag by Indungo — Ops Firewood, ver wes van Cuito.

“Ek kon die misnoeë op die generaals se gesigte sien. Hulle was bang vir groot verliese.”

De Vries glo die gemoedere van die Suid-Afrikaanse publiek het teen die oorlog in Angola begin draai.

Maar wat sou gebeur het as die Suid-Afrikaners wel wes om gegaan en Cuito verower het? En De Vries antwoord sy eie retoriese vraag: Baie meer bloed sou gevloei het.

Die Kubane, waarvan daar teen die einde van die Slag van Cuito Cuanavale sowat 40000 in die suide van Angola was, met 400 moderne tenks — meer as waaroor die hele Suid-Afrikaanse leër beskik het — sou die oorlog oor die Angolese grens gevat het tot diep in die destydse Suidwes-Afrika.

Boonop het die Kubane in daardie stadium met hul moderne MiG23-vegvliegtuie en gesofistikeerde lugafweerwapens nie net die Angolese lugruim oorheers nie, hulle kon met gemak die lugruim van Suidwes binnegaan. Die Suid-Afrikaners het geen doeltreffende teenvoeter in die vorm van lugafweermissiele gehad nie.

Dit was op die ou einde waarskynlik in die belang van ’n beter vrede dat die Suid-Afrikaners nie uit die weste aangeval het nie. Maar daar sal nog baie geargumenteer word oor wat nou eintlik by Cuito gebeur het.

Die Kubane, die Angolese en die ANC propageer dit was hiér waar apartheid die finale nekslag toegedien is. Só is nie net Namibië bevry nie, maar uiteindelik ook Suid-Afrika.

Die Suid-Afrikaners wat op die slagveld was, sien dit in ’n meer pragmatiese lig: ’n Groot Angolese regeringsmag, onder Russiese bevel, het in Cuito Cuanavale saamgetrek en van daar ’n suidwaartse offensief geloods om die Unita-rebelle in hul vestings in Mavinga en Jamba te verslaan. ’n Veel kleiner Suid-Afrikaanse mag het hulle in hul spore gestuit en ná groot verliese terug na Cuito laat vlug.

En daar het die Angolese en hul Kubaanse reddingsmag gebly en nie weer probeer om Unita se vestings aan te val nie. Dít, en tyd wat op die slagveld gewen is vir vredesamesprekings, was die Suid-Afrikaners se oorwinning. Die hele storie.

Of nie?

De Vries was die eerste wat krediet gegee het aan die Kubaanse diktator Fidel Castro, wat vanuit Havana bevel oorgeneem en Kuba se 50 Brigade beveel het om van die westekant van Cuito suidwaarts te storm na die Namibiese grens. Die roete wat De Vries noordwaarts wou volg om Cuito se kwesbare buik oop te kloof…

“Dit was briljant van Castro,” het De Vries gesê. “Hy het ons magte oos van Cuito irrelevant gemaak. Ons moes terugskarrel om die Namibiese grens te gaan verdedig.”

Dit was die immer vurige Louis Bothma, veteraan van 32 Bataljon en skrywer van Die buffel struikel, wat ná De Vries se voorligting in Menongue uitgebarshet:“Wat maak dit saak? Wes of oos, Swapo sou vandag steeds in Windhoek regeer het. Die politici het vir ons gelieg… ons moes vorige generasies se bôggerops gaan regmaak.”

Kort agter hom het De Vries gestap, die staal nie meer in sy oë nie. “Ja. Miskien maak dit nie meer saak nie.”

Terug in Cuito was dit Jaap Steyn wat bygevoeg het: “Miskien was dit God wat besluit het dat die brug by Cuito Cuanavale nie moes val nie… dalk het Hy besluit dis nou genoeg.”

In Cuito, waar die Suid-Afrikaners saans ongehinderd rondloop en Angolese Cuca-bier drinkindieplaaslike kuierplekke, was hulle weer verras deur die vergewensgesindheid en gasvryheid van die inwoners.

En by die brug, waar sommige van die veterane in die rivier swem omdat hulle kán, het Domingos Gonsalves, beampte van die MPLA-administrasie van Cuito Cuanavale, ’n kruis ter nagedagtenis van die gesneuweldes aan alle kante van die veldslag ontvang met die belofte om dit in die nuwe Cuito-oorlogsmuseum te plaas.

Want elke man tel… Elke man aan Suid-Afrikaanse, Namibiese, Angolese en Russiese kant wat hier sy plig as soldaat gedoen het.

“Ek sal die woord versprei oor jul gebaar teenoor ons. Julle sal altyd welkom wees hier,” het Gonsalves by die brug gesê.

Daar is sekerlik ’n versoeningsles hierin vir ons eie land, Suid-Afrika, waar oudsoldate van die Bosoorlog dikwels deur die regering van die dag as skurke uitgemaak word.

Deon Lamprecht – Rapport

Documents

    No Documents added

Images