Net ’n oud-soldaat weet hoe lyk die hel

Revised: November 16, 2010 Tags:

Die brue van Angola lê soos die karkasse van diere met gebreekte rûe in die land se riviere.

Blackie se Plek, waar ons vroegoggend die kruis hoog bo teen die stam van die groot kremetartboom gelaat het, lê agter ons.

Die sandpad volg die kronkels van die Cunene-rivier deur ’n groen landskap waar die kremetarte die alleenheersers van die bos is.

Maar dan nader ons Xangongo — en skielik is ons in ’n landskap geskend deur oorlog. Hierlangs volg ons die spore van die Suid-Afrikaanse militêre kolonne wat in die suide van Angola Swapo-vegters, die Angolese leër, Kubane en Russe in hul vestings gaan aanval het.

Operasies soos Protea, Askari, Meebos, Cassinga, Smokeshell, Firewood, Savate — mylpale in vuur en bloed op die groep Suid-Afrikaanse veterane van die Bosoorlog se onthoupad na Cuito Cuanavale.

Die oorblyfsels van die Xa-ngongo-brug, wat deur die Suid-Afrikaners vernietig is tydens Operasie Protea, lê ver onder ons in die Cunene terwyl ons oor die nuwe brug ry.

Dis maar net een van die baie verwoeste brûe wat op ons pad sou wees. Wat oor is van dié sementblaaie dien nou as gemeenskaplike klerewasplekke en klouterplekke vir kinders.

Net hier, vertel Roland de Vries, het hy op die ou brug gestaan en magteloos toegekyk hoe ’n Suid-Afrikaanse troep ’n huis op ’n hoogte op die westelike oewer van die rivier binnegaan — en in daardie oomblik het hy gewéét wat gaan gebeur.

’n Sekonde later het die soldaat ’n deur oopgemaak en die wêreld het in sy gesig ontplof.

Ons gaan loop op die hoogtetjie rond. Die huis waar ’n versteekte bom die dienspligtige aan flarde geruk het, ruik na urien en ontlasting.

’n Klipgooi van die huis af is die oorblyfsels van ’n ou Portugese fort — en ’n gedenkteken vir Portugese koloniale soldate wat lank voor die Suid-Afrikaners hier kom veg en sterf het.

Wat is vermag met al die verwoesting in die suide van Angola? “Voor ons operasies hier kon Swapo met vragmotors tot by die Namibiese grens ry en dan oor die grens loop om hul landmyne te plant. Ná ons operasies moes hulle honderde kilometers te voet loop net om tot by die grens te kom,” is De Vries se pragmatiese antwoord.

Ons stoot aan, suidoos na Ondjiva. Aan albei kante van die pad ruk die roesrooi wrakke van Russiese pantservoertuie in ewige slagordes op deur die bosse.

Dan draai ons skerp noord en ry dieper in die kwesbaarste deel van Angola in. Anhaca, Evale…

By ’n sendingstasie naby Mupa besef ek eensklaps: hier was ek al.

Daar is die kerk, hier die verlate klaskamers waar kinders se skoolboeke onder soldatestewels vertrap is, dáár die begraafplaas waar ons loopgrawe was.

Nie ver van hier nie het ons in die nag vorentoe gegaan om die lyk van ’n makker op te tel nadat die ligspoorkoeëls deur hom geskeur het.

Ek onthou hom as ’n ou wat altyd geglimlag het.

Ons laat ’n kruis by suster Eria Newoluja, die herder van hierdie kudde. En ry.

Die reis het nou sy ritme gevind. Maak ’n mens jou oë toe, is dit maklik om te glo dis 20, 30 jaar gelede. Daar is dieselfde wit sand, die versengende hitte en die vlieë.

Die Land Cruisers wieg en skud en stamp deur slaggate soos die infanterie-gevegsvoertuie van weleer.

Waar ons snags uitspan — soms naby die grashutte van plaaslike mense waar verslete vlae van die regerende MPLA-party hoog wapper — vra ons eers die hoofman se toestemming.

Hulle is ongelooflik arm, die mense van hierdie stukkende land wat so baie gely het weens die oorlog.

Hul velle is die dofswart kleur van mense wat selde op ’n vol maag slaap.

Maar hulle het die waardigheid van mense wat niks anders het nie. Hulle lag terwyl hulle ons kamp-roetine bekyk en skerts met dié onder ons wat Portugees praat.

Wanneer die veterane se reis na innerlike vrede en versoening aan hulle verduidelik word, is daar ’n stille goedkeuring.

Saans is daar die luukse van ’n groot kampvuur — want destyds, toe die nag ’n beskermende sluier was, kon ons nooit vuur maak nie, herinner Jaap Steyn die groep.

In die gesprekke om die vuur is daar die begin van ’n vredigheid. Dit is asof Kenneth “Blackie” Schwartz se ontboeseming daardie eerste nag onder die kremetartboom die spanning in almal verlig het.

In die gesprekke kom drie dinge telkens na vore: ’n Respek vir die eertydse Swapo-vyand wat hard en dapper geveg het. ’n Verwondering en ’n dankbaarheid oor die vriendelike ontvangs deur die Angolese mense. En skok oor hoe verpletterd die land is.

Skoon water is skaars en ons gebruik dit net om te drink en vir tande borsel. Ons bad in die riviere saam met die plaaslike mense wanneer daar ’n kans is — so elke derde dag.

Die toilet? ’n Graaf, ’n rol “witgoud” en ’n gerieflike bos.

Nóg verder noord deur die landskap van oorlogwrakke en stukkende brûe, oor Cuvelai na Techamutete (hier begin die landmyne, waarsku ’n plaaslike inwoner).

En dan Cassinga, een van die mees omstrede hoofstukke in die geskiedenis van die Bosoorlog.

Uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt was dit ’n suksesvolle aanval deur valskermsoldate op ’n goed beskermde en strategies belangrike Swapo-basis.

Swapo het dit in die internasionale media en in die Verenigde Nasies bestempel as ’n siniese aanval op ’n onbeskermde vlugtelingekamp.

Die waarheid lê tussen die twee — daar was ’n militêre basis én ’n vlugtelingekamp in Cassinga.

Die groep wyk nie van die voetpaadjies tussen die stukkende geboue vol koeëlgate af nie, want die eertydse myndorpie is nooit behoorlik gevee vir landmyne en ou plofkoppe nie.

Die paadjie — wat wel veilig gemaak is sodat Swapo-politici jaarliks Cassinga-dag hier kan herdenk — neem jou verby loopgrawe en borswerings na twee groot, eenvoudige sementblaaie.

Onder die sement is die massagrafte van die sowat 600 mense wat hier gesterf het.

Hier word verpoos vir ’n oomblik van stilte.

As ’n slagveld is dit verbasend klein en ’n engtevrees pak ’n mens hier beet. Dit moes ’n onbeskryflike hel hier gewees het toe die Canberra’s, Buccaneers en Mirage-vliegtuie hul bomme op die Swapo-vegters en burgerlikes laat reën het.

Daarna het die valskermsoldate uit die lug neergedaal vir ’n dag lange geveg, eers teen die Swapo-vegters wat met lugafweerkanonne op hulle geskiet het, daarna teen Kubaanse pantservoertuie wat die Swapo-vegters te hulp gesnel het.

’n Uitgeteerde man verskyn asof van nêrens, geklee in ’n verslete MPLA-hemp en pet. Sy tone steek by sy stukkende stewels uit.

Sy naam is Antonio Vicente, vertel hy in Portugees. Terence Doyle en Louis Bothma vertaal.

Ja, hy is ’n Angolese oudsoldaat en hy was hier die dag van die aanval. Hy weet nou hoe lyk die hel.

Dáár was Swapo se hoofkwartier, hier die wapenstoor, daar hul loopgrawe en tente, beduie hy. En daar, die paradeterrein en die voertuigpark.

Hy self het ontkom deur na die Calonga-rivier te vlug. Daar het baie mense om hom verdrink terwyl hulle van die geveg af gevlug het.

Volgens sy eie raming is daar meer as 500 mense — Swapo-vegters, vroue en kinders — dood en saam begrawe. Sewentien Kubane is doodgeskiet en sewe Kubaanse tenks is vernietig, sê hy.

Later het hulle die lyke van twee Suid-Afrikaanse valskermsoldate uit die rivier gehaal, sê hy. Wat met hul oorskot gebeur het, weet hy nie.

Vicente, voormalige Angolese soldaat en oorlewende van die aanval op Cassinga, hou saam met die Suid-Afrikaanse veterane ’n gedenkdiens onder ’n boom waar ’n kruis aangebring word.

Ons vat weer die pad wat ons altyd nader aan Cuito Cuanavale neem.

Maar daar is nog een ander emosionele mylpaal op hierdie dag.

Naby Indungo, noord van Cuvelai, was dit Koos Moorcroft, die rateltaaie “recce” (oftewel verkenningskommando-operateur) se beurt om sy masker te laat sak.

Hier, tydens Operasie Firewood in 1987, was hy deel van ’n “recce”-aanvalsgroep wat ook die Ovambo-krygers van 101 Bataljon en valskermsoldate ingesluit het.

Hulle het daardie dag ’n baie duur prys betaal vir hul oorwinning oor Swapo.

Negentien Suid-Afrikaners is dood en 69 is gewond.

Dit was een van die “recce’s” se bloedigste dae — en een wat moontlik die uitslag van die latere gevegte by die verre Cuito Cuanevale sou help bepaal.

“’n Mens praat nie maklik oor hierdie goed nie, dit maak seer,” het Koos gesê. Sy stem het gebreek — maar net vir ’n oomblik.

  • Dié reeks oor die reis van ’n groep Suid-Afrikaanse veterane na die Angolese slagvelde is nie ’n poging tot ’n historiese of strategiese rekord nie. Dit is ’n menslike vertelling van die belewenisse van veterane. Die ervarings van individue, soos dié van die Angolese veteraan Antonio Vicente mag daarom verskil van ander weergawes en historiese dokumente oor die veldslae.

Deon Lamprecht – Rapport

Documents

Images