Nuus oor die skouerskuur vir 61 Meg veterane by die Casa Mia bomgat van die Moths in Centurion

Revised: July 21, 2010 Tags:

Nuus oor die skouerskuur vir 61 Meg veterane op 27 Maart 2009

Dertien 61 Meg veterane van die Pretoria/Johannesburg omgewing het op Vrydag, 27 Maart 2009 van 16h00 af by die Casa Mia bomgat van die MOTHS in Centurion ‘n draai kom gooi om ‘n drankie saam te drink by die kontantkroeg.

Ons vertrou dis net die begin van groot dinge, want van die manne wat so lekker saamgekuier het , was party in Veggroep Juliet gewees , party was in 1979 deel van die stigting van 61 Meg , en die jare tot 1987 was ook verteenwoordig gewees.

Die lede van die Casa Mia bomgat het hierdie fasiliteite goedgunstelik aan ons beskikbaar gestel , en ons wil veral vir Old Bill Koos Moorcroft , wat ook ‘n ere-sammajoor van 61 Meg Bataljon Groep is , dankie se hiervoor.

Volgende skouerskuur vir Pretoria/Johannesburg area word beplan vir die laaste Donderdag in April

Ons wil graag hierdie geleentheid vir die 61 Meg veterane in die Pretoria/Johannesburg omgewing om bietjie saam te kuier, ‘n gereelde instelling maak, en daarom wil ons kyk of ons nie van nou af die laaste Donderdag van elke maand opsy kan sit hiervoor nie.

Almal is baie welkom

Ons wil almal nooi wat by 61 Meg was om te kom saamkuier, en by ons is daar nie onderskeid tussen NDP,Kortdiens of Staande Mag nie. Nou is ons almal net veterane van die 61 Meg Veterane Vereniging. Dit sal egter gaaf wees as die voormalige NDP’s hulle gewig kom ingooi agter hierdie tipe inisiatief,want hulle het die grootste gros van die 61 Meg soldate uitgemaak en ons wil hulle baie graag betrek.

Dit pla ons ook nie of jy rang gehad het of nie rang gehad het toe jy by 61 Meg was nie, solank jou hart net reg klop vir 61 Meg, want dan is die saak reg en die kind se naam is Wit Willem.

Fisiese adres

Die Casa Mia bomgat is by Evenden House , Gloverlaan 139 , Centurion en baie naby aan die Jeanlaan afrit op die Ben Schoeman snelweg.

Padaanwysings

Neem die Jeanlaan afrit by die Ben Schoeman snelweg en ry in ‘n oostelike rigting tot by die eerste robot.

By hierdie robot, draai links in Rabie straat en ry reguit aan tot by die eerste robot in hierdie straat.

By hierdie robot, draai links in Gloverlaan en volg die pad, deur ‘n draai na regs en kyk dan uit vir Evenden House op die linkerkant van die straat.

Die tenk in die voortuin behoort dit maklik te maak om te weet waar die regte adres is.

Bevestiging van bywoning van die skouerskuur op 30 April

Dit sal gaaf wees as u kan bevestig of u hierdie skouerskuur kan bywoon , deur ‘n e-mail te stuur na admin@61Mech.org.za

Documents

    No Documents added

Images