Ons mag maar voor ons perde huil

Revised: October 15, 2012 Tags:

Gemengde gevoelens

Dit is duidelik dat die Grensoorlog gemengde gevoelens by mense uitlok,en dit is ook reg so want almal het dit nie dieselfde beleef nie.

Vir die dienspligtiges was dit verseker nie dieselfde ervaring as vir die Staande Mag beroepsoldate nie, en die Burgermagsoldate se belewenis daarvan het beslis verskil van hoe enige ander groep hierdie konflik beleef het.Jou verwysingsraamwerk is nog verder gekleur deur die feit of jy rang gehad het of nie rang gehad het nie. Verder kon die persoon of persone wat in bevel oor mens was,ook die situasie vir jou maak of breek.

Party mense wil nie oor die Grensoorlog praat nie

Daarom is daar mense vir wie dit vandag moeilik is om oor hierdie oorlog te praat, en party voel steeds bitter oor die sinneloosheid daarvan omdat hulle werklik nie die betekenis daarvan insien as hulle na hulle huidige omstandighede kyk nie. Hulle standpunte moet gerespekteer word, want hulle gevoelens is gebaseer op hulle eie persoonlike belewenis van daardie situasie. Dit is hulle prentjie van daardie tyd en nou se wereld , en as ons miskien blootgestel was aan dieselfde verlies, stres of trauma sou ‘n mens dalk ook ‘n soortgelyke uitkyk gehad het.

Lekkerste tyd wat jy nooit weer wil oorhe nie

Ander mense kyk weer terug na hulle tyd in die Weermag en op die Grens as ‘n groot avontuur, die lekkerste tyd in hulle lewe wat hulle nooit weer oor sal wil he nie. In die proses is sterk bande gesmee tussen mense wat miskien andersins nooit bymekaar sou uitkom nie, en as ‘n mens een van jou Armypelle na al die jare weer raakloop , dan bly jy verstom oor die impak van daardie kameraadskap wat toentertyd ontstaan het.

Cowboys wat te skaam is om voor hulle perde te huil.

Dit maak nie saak hoe jy die Grensoorlog beleef het nie, dit bly ‘n goeie ding dat ons na al die jare daaroor begin praat het want vir te lank het ons aangegaan asof ons cowboys is wat te skaam is om voor ons perde ( Ratel gevegsvoertuie ) te huil. Hierdie oorlog het ‘n dieper indruk op baie mense se lewens gemaak as wat dalk aanvanklik besef is, en baie jongmanne en hulle families se lewens is ernstig geraak deur dit wat hulle op ‘n bloedjong ouderdom beleef het en aan blootgestel was. Ons kan dit nou na al die jare maar vir mekaar reguit se, sonder om te voel dat ons besig is om hoogverraad te pleeg.

Operasie Sceptic se jaarlikse herdenking in Bloemfontein

Elke jaar in Junie kom ‘n paar 61 Meg Bataljon Groep veterane in Bloemfontein bymekaar om die gebeure van Operasie Sceptic te gedenk en eer te gee aan hulle makkers wat in 1980 met hulle lewens geboet het tydens hierdie voorsprongaanval op Swapo se militere basisse by die Smokeshell en Ionde komplekse in Angola. Verlede jaar in By is volledig berig oor 2008 se byeenkoms, en hierdie veterane se storie bevestig die helende effek wat hierdie saamkuier en gesels op hulle gemoedere en lewens het.

Miskien is dit nou tyd om te praat

Miskien het dit tyd geword dat die veterane van die Grensoorlog nou die kans aangryp om hulle stories te vertel, hetsy dit nou is op Beeld se spesiale Grensoorlogblad of by ander geskikte forums soos die reeds bestaande veterane verenigings.

Behalwe die terapeutiese waarde daarvan , help dit om die geskiedenis van daardie tyd deur die mense wat dit direk en intens beleef het te laat dokumenteer ,en mag die mense na aan hulle dalk ook ‘n bietjie beter verstaan wat hulle beleef het.

Documents

    No Documents added

Images