Oudsoldate se pelgrimstog op soek na innerlike vrede

Revised: October 15, 2012 Tags:

’n Uitspanplek onder twee groot, ou kremetartbome naby Naulila in die Chetequera-gebied in die suide van Angola sal voortaan deur ’n groep Suid-Afrikaners onthou word as “Blackie se Plek”.

Want dis hier waar Kenneth Schwartz, oftewel Blackie, se emosionele reis van bykans drie dekades lank tot ’n einde gekom het.

Omring deur mede-veterane van die Bosoorlog in Angola en die destydse Suidwes-Afrika het Blackie die trauma van ’n dag van koeëls en bloed in 1982 herleef.

En eindelik genesing gevind.

Die uitmergelende, dag lange geveg teen ’n oormag Swapo-vegters waarin hy as ’n rou offisier van 32 Bataljon sy troepe gelei het, staan in die geskiedenisboeke opgeteken as Operasie Super.

“Ons ammunisie het opgeraak… Ons het hul dooies se wapens opgetel terwyl ons vorentoe beweeg het sodat ons kon aanhou veg… Ons het hul lyke van ammunisie gestroop, want ons het dit nodig gehad.”

In die rivier van emosie wat daar by die kampvuur uit Blackie gevloei het, was daar woede teenoor senior offisiere wat hy glo hom en sy makkers in die steek gelaat het, verdriet en ook trots op wat hy en ’n Gideonsbende op die slagveld vermag het.

Maar bowenal was daar sy verligting om te kan práát daaroor met mense wat verstaan. Omdat hulle ook oorlog ken.

“’n Mens dam alles op, jy praat met niemand daaroor nie, want niemand verstaan nie… Maar ek kan dit vir julle sê, want julle verstaan.”

Dit was ’n groep oudsoldate van 61 Gemeganiseerde Infanterie Bataljon, 32 Bataljon en die Verkenningskommando’s (oftewel “recces”) se eerste nag in Angola op ’n uitgebreide toer van die slagvelde waar dié drie eenhede hard geveg het.

Blackie was as’t ware die gids wat met sy waardige, dog pynlik eerlike vertelling vir die ander gewys het hoe om die pad na innerlike vrede te loop.

Die volgende oggend, voor die groep Blackie se Plek verlaat het, is ’n houtkruis hoog bo teen die stam van die grootste kremetart (GPS-koördinate: suid 17 grade 05.636, en oos 16 grade 43.626) aangebring.

In ’n eenvoudige seremonie waarby die plaaslike inwoners betrek is, is die kruis opgedra aan almal wie se lewensbloed in die Angolese sand uitgeloop het: Suid-Afrikaners, Namibiese guerrillas, Angolese, Kubane, Russe.

Daar is gebid onder die kremetart. En ja, daar was trane, in die vertroostende omhelsings van kamerade. Vir die plaaslike mense was daar geskenke van klere, en vir die veterane ’n belofte dat die kruis — net een van vele wat die mylpale op hierdie onthoupad sou aandui — opgepas sou word.

Onder die 19 Suid-Afrikaners was swaargewigte en beroepsoldate soos: Roland de Vries, voormalige adjunkhoof van die leër en oud-bevelvoerder van 61; Jaap Steyn, ook ’n oud-bevelvoerder van 61; en Koos Moorcroft, deurwinterde recce-soldaat en eens die mees senior onderoffisier van die leër.

Daar was egter ook doodgewone oud-dienspligtiges wat deur omstandighede in ’n oorlog gedompel is wat ’n reuse-impak op hul lewens sou hê.

In die burgerlike lewe het hulle nou uiteenlopende loopbane: die bankwese, eiendom, ingenieurswese, landbou…

Talle het mekaar vir die eerste keer ontmoet die dag toe hulle by De Wildt, noordwes van Pretoria, bymekaar gekom het om hul pelgrimstog van 6000km en 17 dae te begin.

Maar die bande van ’n universele broederskap gesmee in vuur en bloed het hulle naatloos verenig in ’n gemeenskaplike sending: Om sin te maak uit ’n oorlog wat in Suid-Afrika polities ongewild geword het en soms selfs as misdadig bestempel word. Om geestelike letsels te genees. En om ’n hand van vriendskap uit te reik na hul eertydse vyande.

Daardie versoeningsproses het reeds dae vóór die ontboeseming by Blackie se Plek begin. In Windhoek, by die imposante Heldeakker hoog bo die stad waar die Swapo-regering die slagoffers van sy gewapende stryd teen Suid-Afrika vereer.

Hier het die Suid-Afrikaners tydens ’n seremonie waaraan genl. Karel Ndjoba, hoof van die Namibiese weermag se menslikehulpbron-eenheid, en komm. Ben Khadila, bevelvoerder van die Namibiese spesiale magte, deelgeneem het, hulde gebring aan die slagoffers aan albei kante van die konflik en ’n kruis aan die twee Namibiese offisiere oorhandig.

“Die oorlog is verby. Dis fantasties dat julle hier is. Kom asseblief weer terug,” het Ndjoba gesê.

En hier het Roland “My-naam-is-nie-generaal-nie!” de Vries met ’n snik in sy stem die woorde geuiter wat die mantra van die toer sou word: “Elke man tel.”

Élke man: Suid-Afrikaner, Namibiër, Angolees, Kubaan of Rus.

Daarby sou Jaap weldra byvoeg: En ook elke vrou. Elke vrou wat gespook het om alleen ’n huishouding en gesin bymekaar te hou terwyl haar man êrens in die bos was. En elke vrou wat gely het in ’n verhouding met ’n man wat geestelik stukkend teruggekom het.

Daar by Windhoek se Heldeakker het ek weer gedink aan die vorige aand, toe eertydse vyande saam by ’n skaapbraai gekuier het.

Ek en Ben Khadila het eenkant gepraat oor sy lang jare in die bos as ’n Swapo-vegter. Ben het geamuseerd om hom rondgekyk en met ’n effense glimlag gesê: “Daar is geen oorwinnaars hier vanaand nie. Vrede is die enigste oorwinnaar.”

Van Windhoek is ons noordwaarts na Tsumeb, ’n myndorp in die destydse operasionele gebied met ’n besonderse band aan 61 Meg en wat as ’n gemeenskap soms hard geslaan is deur Swapo-insypelaars.

In Tsumeb het soldate en burgerlikes by geleentheid saam gerou.

Ons konvooi trek aandag in dié dorp. Buite die huis waar Roland en sy gesin gewoon het — en wat terselfdertyd as 61 Meg se hoofkwartier gedien het — kom inwoners uit alle rigtings om te groet en hul herinneringe te deel.

Noord van die Etosha-wildtuin stop ons by Omuthiya, die ou operasionele basis van 61 Meg, eens ’n belangrike wapen in die Suid-Afrikaanse Weermag se konvensio­nele arsenaal. Die eenheid het deelgeneem aan feitlik elke operasie sedert Reindeer in 1978 tot die gevegte rondom Cuito Cuanevale in 1987.

Dis ook die plek waar ek baie maande van my eie diensplig deurgebring het.

Van die basis, soos baie ander, is daar net bouvalle oor. Die ou paradegrond is ’n sokkerveld. Grashutte het die plek van bruin tente ingeneem en donkies wei waar Ratel-gevegsvoertuie gestaan het.

Dis vir my vreemd gepas.

By die plek waar die gedenknaald vir 61 se gesneuweldes eens gestaan het (dis intussen verskuif na die Nasionale Oorlogsmuseum in Johannesburg), word verpoos vir ’n oomblik van stilte, voordat daar middagete gemaak word by die bouval van die ou troepemenasie.

Oplaas word die Angolese grens oorgesteek by Calueque, en die Namibiese teerpad wat onder Suid-Afrikaanse troepies as die “gun barrel highway” bekend gestaan het, maak plek vir ’n Angolese sandpad.

Dis die pad wat ons na die uitspanplek onder die twee kremetartbome lei. Blackie se Plek. Die eerste halte op ’n reis wat by tye sou herinner aan Joseph Conrad se Heart of Darkness.

Die oggend nadat Blackie sy demoon in die gesig gestaar het en John McMahon met ’n tou en ’n bakkie in die kremetart opgetrek is om die kruis vas te skroef, was dit wéér Blackie se woorde wat opgeval het: “’n Mens besef nou… Elke ou wat jy doodgeskiet het, het ook ’n ma of ’n pa, ’n broer of ’n suster gehad.”

Elke man tel.

  • Deon Lamprecht was in sy dienspligjare aan 61 Meg verbonde. Hierdie is die eerste van drie aflewerings oor die groep se emosio­nele reis na die plekke waar hulle oorlog gemaak het. Lees volgende week van hul reis na Xangongo, dan na Cassinga, Mupa en verder na die Savate-rivier en Cuito Cuanevale.

Documents

Images