Ratelaste en narkose

Revised: October 23, 2012 Tags:

Sammajoor Doepie du Plessis en die Ratelaste tydens Operasie Daisy

In 1981 tydens Operasie Daisy was sammajoor Doepie du Plessis en sy span Tiffies manne wat wondere verig het om Ratels wat landmyne afgetrap het, weer diensbaar en aan die loop te kry. En dit sommer daar diep in die Angolese bosse, ver van die gerieflike fasiliteite by Omuthiya.

Tydens hierdie spesifieke operasie het daar heelwat Ratels landmyne afgetrap, en die Tiffies het gewerk dat dit klap om by te bly.

Die aste van hierdie beskadigde Ratels moes gewoonlik vervang word, en nuwe Ratelaste moes dan eers ingevlieg word na die laergebied sodat die Tiffies hulle toorkunsies kon uitvoer om die Ratels weer aan die loop te kry.

Oom Doepie droom die hele nag van Ratelaste

Oom Doepie du Plessis was vanjaar saam op ons eerste Angola ekspedisie, en die aand toe ons naby Cuvelai in die omgewing waar Operasie Daisy plaasgevind het gekamp het, was sy gemoed weer vol Ratelaste wat afgelewer moes word sodat die Ratels weer aan die gang moet kom.

Oom Doepie kon daardie nag net nie tot ruste kom nie, en teen vier uur die oggend was hy reeds op en wakker, besig om van tent tot tent in die kamp navraag te doen.

“More, is julle wakker?” Oom Doepie se vriendelike dog ferm navraag het die meedoenlose snorkkoor in die kamp tentjie vir tentjie onderbreek.
“Ai, ek kan nou al die heelaand nie geslaap kry oor die Ratelaste nie .Wil jy nie bietjie koffie he nie?” Die snorkkoor het die indringende vraag beantwoord deur die noot na ‘n rukkie weer teen ‘n effense hoer oktaaf te hervat.

Planne word gemaak om oom Doepie hok te slaan

Aangesien dit toe maar eers ons derde nag in Angola was, het daar ‘n effense onrustigheid ontstaan onder van die toerlede oor die koffie uitnodigings so vroeg in die oggend. Koffie is lekker, maar nie so lekker so vroeg in die oggend nie.

Boepie Nel van Loeriesfontein was die drywer van die Overlander gewees, en hy en oom Doepie het saam in ‘n choppertentjie geslaap.

Die volgende aand nadat oom Doepie en Boepie gaan inkruip het, het ‘n paar besorgde toerlede, wat steeds verkies om anoniem te bly, ‘n stokkie gesteek voor oom Doepie se naglopery en die tentjie se zips stewig vasgemaak met cable ties.

Dit was regtig lekker om te sien hoe vindingryk twee gewese bevelvoerders van 61 Meg weier om terug te deins van hierdie tipe logistieke uitdagings, sonder om al die eer vir hulleself te neem.

Die slim plan het vir oom Doepie daardie nag binne in sy tentjie gehou, maar die plan het ongelukkig vir sy kamermaat Boepie Nel, ook ewe uitstekend gewerk om hom in die tent te hou.

Wanneer Boepie wou opstaan in die nag was dit om regtig ‘n draai te gaan loop, en when a man wants to go, a man wants to go.

Oom Doepie moes daarna elke aand narkose kry

Die toergroep het nie gebrek gelei aan inisiatief nie, en die volgende aand net voor oom Doepie wou gaan inkruip het, is hy toe eers ‘n bietjie narkose toegedien.

Die eerste toediening narkose, bestaande uit 4 tots brandewyn, is die aand sonder sy medewete in sy laaste koppie koffie voor slapenstyd gegooi. Die nag kon ‘n Ratelas maar uit die hemel op oom Doepie geval het, dit sou niks gemaak het nie want hy het soos ‘n klip geslaap.

Die volgende paar aande het sy toegewyde narkotiseur gebruik om bietjie te eksperimenteer met die dosis narkose totdat hy die mees effektiefste en bekostigbaarste dosis bepaal het vir sy pasient en sy beursie.In die proses het die narkotiseur dit darem ook nie nagelaat om die narkose ook op homself uit te toets nie.

Oom Doepie het daarna elke aand pligsgetrou sy narkose voor slapenstyd geneem en dit was dan ook die coupe de grace gewees vir sy naglopery.

Die narkotiseur het op ‘n staduim bedenkinge gekry oor die toediening van die narkose want as ‘n pasient te veel begin uitsien na sy narkose, dan sou dit miskien beter en goedkoper gewees het vir die narkotiseur om homself eerder onder narkose te plaas.

Bydrae – Die Narkotiseur

Documents

    No Documents added

Images