Op Askari - My herinneringe van hierdie operasie

Submitted by Korporaal Anthony Kruger, peleton 2, Bravo kompanie on October 07, 2009 13:31

Inleiding

Dit is met groot opgewondenheid, tog ook groot heimwee, dat ek een aand op die internet google en 61 Meg intik en op die webtuiste afkom.

Onmiddellik is al die ‘memories’ weer daar, soos Jaap Steyn nou die dag noem, ingeblik, ingedril en ingeforseer, soos sardiens in n visblik. Kameraadskap en ’n band wat niemand ooit van ons sal kan wegneem nie.

Gustav Venter se storie oor Piet Liebenberg

Ek het so pas ’n brief gelees wat Gustav Venter ingestuur het oor tweede luitenant Piet Liebenberg.

Ek het hom nie so goed geken nie, maar gereeld wanneer ons laer ingeneem het, was hy daar om sy rondtes te doen met klaarstaan.Ek het gereeld met die stil en half skamerige tweede luitenant geskerts as hy by my troepe sou verbyloop.

Ons trek die eerste keer vuur

Ja, dit was die 16de Desember 1983 wat ons die eerste keer onder skoot gekom het van die vyand af, op Geloftedag, toe n recce uitgestuur is om te verken.

Niksvermoedend was ons ook al in die oog van die vyand se recce gewees, die gee van vuurleiding en ons word met artillerie bestook.

Dit was ons eerste amptelike bestoking ontvang en daarna D-dag 31 Desember met H-uur 12h00, hoe kan mens dit ooit vergeet.Ek was die linkerflank van veggroep Delta, gerig op my voertuig en ek het met die Calongo Rivier aan my linkerkant beweeg.

Ek dink my peletonbevelvoerder was ’n Swanepoel of ’n Roelofse, kan nie meer lekker onthou nie, en toe ek per radio aan hom noem dat ek afgesaagde bome gewaar en dit waarmerk as hoofwapens se skootsvakke,was dit asof jy se mes, en die gort was gaar.

Die vyand het onmiddellik op ons losgebrand met 23mm en 14mm lugafweer kanonne.

Die luitenant het die korrekte dril uitgevoer en ons onmiddellik laat uitstap.

Dit was hier waar ek orders ontvang het om rook te gooi vir n casavac by my.Nadat ek ’n grond check gedoen het, het ek gesien al my manne is nog ongedeerd.Dit was egter hier waar n baie goeie skutter noodlottig gewond is.

Dit is egter hier waar ek wil stilstaan.

Ek het vir skutter Callie Fourie nooit vergeet nie

Daardie skutter het ek nooit vergeet nie, want nadat ek van die leiersvleuel ingedeel is by die gevegskompanies, het ek hom leer ken.

Saam het ons in 1981 opleiding ondergaan en daarna die volgende jaar, 1982, by 61 Meg n paar operasies saam gedoen.Desember 1982 het ons by 1SAI se hekke uitgestap die onbekende in en groot was my verbasing toe, 9 maande later, omtrent al my troepe vir my op Paarl se stasie vanuit die trein skree: “hallo Sargie”.

Hierdie Kapies was toe al onderweg vanaf die Kaap.Hierdie skutter waarvan ek skryf, kon ironies genoeg, vrystelling ontvang het vir die missie waarop ons gestuur was. Hy was n brandweerman en vir hulle was dit maklik om vrystelling te verkry het, maar hy het verkies om sy land te verteenwoordig, en om n paar rand ‘danger pay’te verdien, want sien sy plan was om te spaar vir sy troue met sy terugkoms.

Twee dapper kamerade het hom te hulp gesnel

Daardie noodlottige dag, het twee van ons ander kamerade by name skutters Halgryn en Lochner, hul makker langs hulle op grond te hulp gesnel aangesien dit te warm op die front was vir die medics om hulp te verleen, ’n daad waarvoor hul die Honoris Crux ontvang het.

’n Vriendelike versoek

Ek merk op dat skutter Callie Fourie se naam nie op die 61 Meg Roll of Honour verskyn nie, alhoewel hy daar geskool is, onder Roland De Vries, en toe hy gesterwe het, onder die vaandel van Regiment Groot Karoo diens gedoen het.

Is dit nie moontlik om die naam van skutter Callie Fourie ook op die 61 Meg Roll of Honour aan die bring, asseblief?.