1983

Commander:
Commandant Gert van Zyl
Commandant Ep van Lill
2IC:
Majoor Chris Roux
RSM:
WO1 HG Smit

Composition of 61 Mechanised Battalion Group

Overview by the Commander

Inleiding

61 Meg Bataljon Groep, die mobiele reserwemag tot beskikking van die Bevelvoerende Generaal van die SWA Gebiedsmag in die dae van die “Grensoorlog”, was ‘n dinamiese en formidabele konvensionele mag. Dit was ‘n mag wat vrees by die vyand ingeboesem het en ‘n eenheid waarmee enige Suid — Afrikaanse en SWA soldaat graag wou assosieer.

Om as bevelvoerder van hierdie eenheid te kon dien, al was dit net vir ‘n kort periode van een jaar, was beslis ‘n hoogtepunt in my militêre loopbaan. Met die stam/administratiewe hoofkwartier bekend as Omukuijo (wildevy) op Tsumeb en opleidings/operasionele basis op Omuthiya (kameeldoringboom), was hierdie eenheid altyd paraat en gereed om op kort kennisgewing operasioneel te ontplooi.

Operasionele take het gewissel van mobiele konvensionele en onkonvensionele oorgrensoperasies in Suid-Angola tot vinnige en doeltreffende ondersteuning aan die Areamageenheid tydens vyandelike infiltrasies in die noordelike boerdery gebied. Operasies waaraan 61 Meg Bataljon Groep gedurende die loop van 1983 deelgeneem het was Operasie Phoenix, Operasie Dolfyn en Operasie Askari.

Behalwe militêre operasies, het die eenheid ook met die gemeenskap van Tsumeb gesosialiseer, materiele hulp en ondersteuning aan swart- en wit inwoners van die omgewing gegee, die vryheid van die dorp Tsumeb onvang, rugby gespeel en die plaaslike ekonomie ondersteun. Dan ook het die dames van permanente staflede deur middel van die Leër Damesvereniging aktiwiteite ‘n bydrae tot die sukses van die eenheid gelewer.

Sosialisering

Daar was op verskeie terreine interaksie tussen 61 Meg Bateljon Groep en die gemeenskap van Tsumeb. Staandemaglede wat permanent na die eenheid verplaas was, het op Tsumeb gebly, hul kinders het daar skoolgegaan, deelgeneem aan kerk- en kulturele aktiwiteite en hegte vrienskapsbande is met die inwoners van die dorp opgebou.

Die vrouens van permanente staflede was verenig in die Leër Damesvereniging en het dinge soos ontspanningsgeleenthede vir die troepe gereël maar ook sosiale geleenthede saam met die mense van Tsumeb. Die oues van dae was by geleentheid vermaak deur vermaaklikheidsgroepe vanaf Pretoria. Vir hierdie dames was dit ‘n voorreg om die troepe van 61 Meg Bateljon Groep gereeld te bederf met koeksisters en ander lekkernye.

Die mans se kuierplek, veral op Vrydagaande, was die “Buighuis” op Omukuijo. Die naam van hierdie kroeg was agv die deur wat laer was as gewone deure en mense van gewone lengte moes buk om by die deur in te gaan. Hier het ons saam gekuier met lede van die gemeenskap soos Oom Robert Casper met sy Maroela schnaps. Hy was op ‘n stadium gekroon as die ere RSM van 61 Meg Bataljon. Ek onthou mense soos kommandant (Oom) Lucas Nel en majoor Ockert Brits, onderskeidelik die bevelvoerder en 2IB van Etosha Areamageenheid (Kommando). Oom Hansie Hellwig, stadsraadslid, Andy Weyand, kolonel Tommy Thomasse van SWA Polisie en Tony Botes, Menslike Hulpbronbestuurder van Tsumebmyn en ook die burgemeester van Tsumeb, was almal groot en lojale vriende van 61 Meg Bataljon Groep.

‘n Groot geleentheid vir 61 Meg Bataljon Groep was toe die eenheid saam met Etosha Areamageenheid op 23 September 1983, die reg tot vrye toegang van die dorp Tsumeb verkry het. Hierdie was ook ‘n reuse magsvertoon van 61 Meg Bataljon Groep se toerusting en was bygewoon deur die vorige bevelvoerders en RSMe. Generaal Dirk (Jafta) Marais het Hoof van Die Leër verteenwoordig. Die militêre bal daarna op 24 September 1983 was ‘n uithanggeleentheid vir 61 Meg Bataljon Groep en die gemeenskap van Tsumeb.

61 Meg Bataljon Groep het ook rugby gespeel en aan die plaaslike liga deelgeneem. ‘n Gedugte rugbyspan onder kapteinskap van majoor Jakes Jacobs van die Pantser, het menige aanspraakmakers op die trofee die onderspit laat delf. 61 Meg Bataljon Groep se reputasie op die militêre slagveld het tot gevolg gehad dat mededingende spanne alles sou doen om teen hulle te wen. Hierdie wedstryde het dan gewoonlik nie sonder ‘n vuisgeveg of twee klaargemaak nie. Op hierdie terrein het 61 Meg se manne nooit die onderspit gedelf nie.

Twee stories in ligte luim

Attie, die bobbejaan

Attie die bobbejaan , die troepe het hom hierdie naam gegee, het op ‘n onwettige wyse deel van die eenheid geword want ‘n reël was dat geen troeteldiere binne die eenheidslyne toegelaat sal word nie. Hy was deur een van die troepe ingesmokkel en aanvanklik weggesteek totdat dit nie meer moontlik was nie. Ek het vir RSM HG Smit opdrag gegee om die bobbejaan uit die eenheid te laat verwyder.

‘n Afvaardiging troepe het my egter kom sien en gepleit dat Attie moes bly en ek het toegegee op voorwaarde dat hy nie los mag loop nie, nie kwaad doen nie en beheer moes word. Die voorwaardes was aanvanklik streng nagekom.

Op ‘n dag kom kla die spysenier op Omuthiya egter dat daar kos uit die kombuis wegraak ten spyte van die feit dat hy die plek gesluit hou. Die van u wat die kombuisopset op Omuthiya geken het, sal weet van die opening tussen die muur en die dak van die gebou waar geen mens kon deurklim, kos steel en terug klim sonder spesiale klimtoerusting nie.

Nie lank daarna nie kom kla die klerasiestoorman dat klere uit sy stoor wegraak ten spyte van die feit dat die plek gesluit word. Die struktuur van hierdie stoor was soortgelyk aan die van die kombuis.

Ek neem toe in dieselfde tyd waar dat Attie nie meer aan ‘n leitou vas is nie maar vry rond beweeg en dinge doen tot groot vermaak van die inwoners van Omuthiya. Ek sit toe twee en twee bymekaar en om ‘n lang storie kort te maak vind toe uit dat die troepe Attie gebruik het om hierdie diefstalle te pleeg. Met die klimvermoë van ‘n bobbejaan was dit vir Attie kinderspeletjies om sonder hulp deur die opening tussen die muur en die dak te klim en die troepe se behoefte aan kos en klerasie te bevredig.

Hierdie was genoeg rede om Attie summier uit die eenheidslyne te deporteer. Ek gee toe opdrag dat hy gevang word, dit het ‘n eenheidspoging geverg, en Attie is uiteindelik bo op die watertoring vasgekeer en gearresteer. Ek het toe AO2 Boulter, die battery sersant majoor opdrag gegee om Attie in ‘n voertuig te laai en êrens langs die pad Tsumeb toe, ver weg vanaf Omuthiya, af te laai.

AO2 Boulter vertel toe die storie dat hy Attie in die omgewing van die Oshivello vrygelaat het. Attie het met sy vrylating (hy was glad nie gelukkig met die toedrag van sake en die behandeling wat hy ontvang het nie en het dit luidkeels te kenne gegee) op die naaste miershoop geklim, geobserveer en die opleidingsbasis van die Infanterieskool by Oshivello waargeneem. Daarna het AO Boulter vir Attie alleen gelaat en vertrek met die wete dat Attie ‘n nuwe tuiste by die Infanterieskool se opleidingsbasis sou vind.

Dit was drie dae later dat die hekwag op Omuthiya per radio die Opskamer laat weet dat Attie so pas deur die hek is nadat hy amper die hekwag aangerand het.

Na ‘n lang vergadering met die beskermhere van Attie is toe besluit dat hy maar kon aanbly, maar as volledige lid. Sy naam moes op die appelboek kom, hy moes onder beheer gehou word, die eskapades met die kos en klerasie diefstal moes staak en hy moes die eenheid vergesel op operasies.

Attie was saam tydens Operasie Dolfyn en Operasie Askari. Sy lêplek was op die kamoefleernet op die Ratel se spaarwiel. Tydens heg en steg beweging deur digte bos was Attie partymaal meer op die grond as op die Ratel. Hy het egter nie ‘n bang haar op sy lyf gehad nie en het nie geglo aan dekking neem tydens vuurgevegte met die vyand nie.

Attie is egter, so was aan my vertel, tydens ‘n vyandelike artilleriebombardement naby Cahama tydens Operasie Askari deur skrapnel getref en het so gesneuwel. Hy is met die nodige eerbewys daar begrawe. Attie se naam behoort op die 61 Meg Bateljon Groep gedenknaald aangebring te word want hy het in diens van sy land die hoogste prys betaal.

Onwelkome deelname aan die vryheid van die stad parade.

Met die vryheid van die stad se parade in Tsumeb op 23 September 1983 was beplanning, voorbereiding en inoefening met groot sorg en deeglikheid gedoen. Al die voertuie wat deel sou vorm van die mobiele kolonne was nuut gesprei en kon deur ‘n ring getrek word. Self die LWT (tiffie voertuie) was onnatuurlik skoon.

Met die opstelling in die hoofstraat van Tsumeb die oggend van 23 September 1983 het alles vlot verloop totdat die voertuigkolonne in die rigting van die salueerbasis begin beweeg het. Toe gebeur die onverwagte.

‘n Tiffie Unimog (vuil) met tiffies (ook nie van die skoonste nie) kom Tsumeb deur die hoofstraat binnegery en sluit by die voertuig kolonne aan wat besig is om die salueerbasis te nader, salig onbewus daarvan dat hulle besig is om deel te word van ‘n spog militêre parade. Dit gebeur toe tot groot vermaak van die toeskouers langs die hoofstraat.

Was dit nie vir ‘n verkeerspolisieman met insig wat tot redding van die situasie gekom het nie, sou dit vir 61 Meg Bataljon op so ‘n besondere dag ‘n groot verleentheid gewees het.

Blywende indrukke

Met my oorname as bevelvoerder van 61 Meg Bataljon Groep, en tydens die bevelsoorhandigingsparade, was die erekode van die bevelvoerder, opgestel deur kommandant Dippies Dippenaar voorgelees; “Ek verklaar dat ek bewus is van die belangrikheid van die voortbestaan van alle Christelike volke en aanvaar hiermee die verantwoordelikheid van die groot eer en geleentheid aan my gebied as bevelvoerder van 61 Meg Bataljon Groep. Ek onderneem om alles in my vermoë te gee tot die beskerming van Suidwes — Afrika teen aggressie van buite en tesame met my gade te help om ‘n vreedsame en stabiele gemeenskap binne die landsgrense te skep. Ek beloof om nooit my eie voordeel te soek nie, maar my altyd te beywer vir die hoogste heil van hierdie Eenheid en die SA Leër. Ek sal alles in my vermoë gee om hierdie eenheid tot die hoogste standaard van paraatheid en doeltreffendheid te lei. Ek gee aan God die hoogste eer en aanvaar Hom as die hoogste gesag oor my lewe en Sy Woord is my finale lewenskode. My leuse sal wees: Vir my Makker; Vir my Eenheid; Vir my land en Volk; Vir my God.” Met hierdie erekode altyd in gedagte het ek my taak as bevelvoerder benader.

‘n Paar indrukke van 61 Meg Bataljon Groep wat my altyd by sal bly was:

Uitrustingsbewustheid en gevegsgereedheid.

Vir elke lid van 61 Meg Bataljon Groep was diensbaarheid en onderhoud van voertuie en gevegstoerusting ‘n prioriteit en ‘n leefwyse. Gereëlde stalparades en uitrustinginspeksies was deel van ‘n roetine. Tydens laertrek in die Angola bos was daar eers na die voertuie en toerusting omgesien voordat die menslike liggaam versorg was. Veral hier het die tiffies ‘n voorbeeld gestel. Hulle het nooit gerus voordat die hele Veggroep nie mars- en veggereed was nie. Dit was altyd ‘n doelwit om na ‘n operasie geen voertuig terug Omuthiya toe te sleep nie. Die Ratel 20 en Ratel 90 was almal se trots.

SOPs en Gevegsdrils.

Die eenheid het Staande Operasionele Prosedure (SOP) gehad, opgestel deur Roland de Vries, wat soos ‘n Bybel vir sy lede was.

Hierdie SOP was tydens opleiding op Omuthiya ingeoefen.Gevegsdrils in verskillende omstandighede was in sub-eenhede en troepe se koppe ingeprent en slegs met die gee van ‘n kort radio order het troepe presies geweet wat om te doen en hoe om op te tree en te ontplooi.

Snel mobiliseringsvermoë.

Die SOP het ook ‘n groot bydrae tot hierdie vermoë gelewer. Met bekwame logistieke offisiere, RSM en subeenheid sersant majore as echelon bevelvoerders, het die eenheid soos ‘n geoliede masjien gemobiliseer. Aanvulling tydens operasies en laertrek het altyd glad verloop.

Vermoë van die LWT.

Vir AO2 Collin Deysel en sy span en hul toewyding om 61 Meg Bataljon Groep se wiele aan die rol te hou, salueer ek.

Slotsom

Dit is vir my as oudsoldaat ‘n wonderlike ervaring om 1983 weer te herleef. Ek moes hard dink om dit wat ek 28 jaar gelede beleef het, te onthou. Dit het soms knoppe in die keel gelaat. Ek is egter trots op dit waarvan ek deel kon wees, naamlik die SAW, want afgesien van alles, was ons bestempel as die beste weermag in Afrika en 61 Meg Bataljon Groep het sy deel terdeë tot hierdie beeld bygedra.

Operations

Tell your Story

Did you serve with 61 Mech? Do you have a recollection or anecdote to share?

Subscribe Now and share your experiences.

If you subscribe to the member site, you can read stories and view photos which can not be accessed from the public site.