1994

Commander:
Commandant Hannes van der Merwe
2IC:
Majoor Smokey de Kock (later vervang deur majoor Johan de Wet)
Adjudant:
Kaptein De Wet van Aswegen
RSM:
AO1 Gert Barnard

Composition of 61 Mechanised Battalion Group

Infantry:
A Kompanie — Kaptein Gert Barnard
B Kompanie — Majoor Riaan Gray
C Kompanie — Majoor Deon Hugo
O Kompanie - Majoor Villiers de Vos
Armour:
E Eskadron — Majoor Johan De Wet
Artillery:
S Battery — Majoor Koos Breytenbach
Engineers:
KH Kompanie - Majoor Antonio de Andre

Overview by the Commander

Inleiding

Ter inleiding kan net gemeld word dat sekere feitelike informasie van persoon tot persoon kan verskil, maar ek glo met die redegering daarvan daar sekere byvoegings gemaak kan word en feite reggestel kan word. Dit moet ook onthou word dat in daardie jare informasie ten opsigte van operasies geklassifiseerd was en rekords, soos oorlogsdagboeke, SITRAP`e, ens ingehandig moes word. Die gebruik van kameras was beperk tot hoofsaaklik die neem van fotos wat as bewyslas kon dien waar en wanneer nodig. Ja, daar was diegene wat oortree het! Hopelik is diegene bereid om van daardie fotos beskikbaar te stel, veral waar dit nie sensitief van aard is nie.

Datums sal bevestig moet word, asook die name van spesifieke operasies.

Agtergrond

Gedurende November 1993 oorhandig kommandant Gerrit Louw bevel van 61 Meg Bataljon Groep aan kommandant Hannes van der Merwe tydens `n gemeganiseerde parade.

Op daardie stadium was 61 Meg saamgestel uit die volgende: Bn Gp Hk HK Komp 3 x Meg Inf Komp`s 1 x Ondst Komp volledig met `n 81 mm Mor Pl, Tk A Pl en `n Storm Pnr Pl. 76 mm Rooikat Eskn G5 Bty 23 mm LA Tp A Ech B Ech

Vanaf November tot Desember 1993 word `n aantal lede vanaf 32 Battaljon na 61 Meg oorgeplaas, wat hoofsaaklik uit Portugese bestaan het. Meeste van die lede was getroud en het met hul gesinne na die omgewing verhuis. Huise is vir hulle gebou in Postmasburg en Olifantshoek. Hulle was die geleentheid gegun om lenings an te gaan ten einde vir hul huise te kon betaal. Hier behoort gemeld te word dat die LDV van 61 Meg onder leiding van Bets van der Merwe baie moeite gedoen het om veral die vrouens en kinders te vestig en te laat tuis voel. Spesiale geleenthede is geskep waar die vrouens hulself kon veryk.

Die personeeltekorte is aangevul, en spesifiek B Komp en Onst Komp het van die lede gebruik gemaak om op sterkte te kom. Opleiding is deur die kompanies self aangebied. Die hervestiging en opleiding was suksesvol. Wat interressant was, was die wyse hoe die verskillende kulture van verskeie rassegroepe bymekaar gekom het om nog steeds die unieke gees van 61 Meg behoue te laat bly. Die sterk leierseienskappe van veral Maj`e Riaan Gray en Villiers de Vos, ook `n oud 32 Bn lid, het grootliks tot die sukses van hierdie hervestiging bygedrae. Teen Januarie 1994 was 61 Meg weer ten volle operasioneel gereed om te ontplooi.

Operasies

Vanaf Januarie tot Maart 1994 ontplooi 61 Meg met `n Bn Hk en 4 x kompanies in n Mot Inf rol in Katlehong aan die Oos Rand. Die basis was opgerig in `n ou sokker stadion vanwaar daar geopereer was. Die doel van die operasie was om die onlusgeteisterde Oos Rand te stabiliseer ten einde `n eerste vreedsame demokratiese verkiesing in die RSA te kon verseker, wat gedurende Maart 1994 plaasgevind het. Dit het feitlik elke dag gereen en omstandighede was nie altyd aangenaam nie.

Elke kompanie het 4 Caspir personeeldraer voertuie gehad wat meegebring het dat operasies hoofsaaklik te voet uitgevoer was.

Operasies was hoofsaaklik snags gedoen. Patrollering, kordonne en soektogte, haastige padblokkades en die bemanning van observasieposte was aan die orde van die dag/nag. Tydens rusperiodes was daar behalwe rus, bystand en voorbereidings, ook tyd gemaak vir heropleiding van personeel in die aanwending van hoof uitrusting.

Negatiewe insidente het drasties afgeneem tydens die ontplooiing van 61 Meg in die verantwoordelikhedsgebied soos wat toegeken was aan die battaljon. Middel Maart 1994 onnttrek 61 Meg terug na LGS en begin met ontplooingsdrils vir verder ontplooiing. 61 Meg het lof ontvang van die BG, Kommandement Witwatersrand, vir die werk wat daar gedoen was.

Gedurende Maart 1994 ontplooi 61 Meg na Heidelberg onder bevel van Groep 15, Kommandement Noord Transvaal. Dit was in die periode net voor die eerste demokratiese verkiesing in die RSA. Die doel van hierdie operasie was om stabiliteit in die gebied van die Kommandement te verseker voor en na die verkiesing in 1994.

Hierdie ontplooiing was uitgevoer deur die totale 61 Meg met konvensionele uitrusting. Operasies was bedags en snags uitgevoer. Mobiele en te voet patrollering, kordonne en soektogte, haastige padblokkades en magsvertoon was van die tipes tegnieke wat gebruik was tydens die operasie. `n Interressante konsep wat gebruik was, was om Ratels net met bemanning deur die woongebiede te laat ry, en dan die troepe met helikopters na die voertuie te ontplooi. Dit het die indruk by die inwoners gelaat dat daar baie meer magte in die gebied was as wat werklik die geval was. Die beweging van die totale mag deur `n woongebied op een spesifieke tyd was vreesaanjaend.

Tydens die verkiesing was die lede van 61 Meg die geleentheid gegun om hul stemme in Heidelberg uit te bring. Ds Fanus Hansen, die kapelaan, was nogal verantwoordelik om die lede van 61 Meg voor te berei vir die verkiesing.

Twee dae voor tot twee dae na die inhuldiging van Pres Nelson Mandella, 1 April 1994, het die totale mag opgedeel in vegspanne en versprei op al die hoofroetes van en na Pretoria. Die Bn HK het ontplooi op Fort Klapperkop vanwaar die operasie beheer was. Die doel van hierdie spesifieke ontplooiing was om deur middel van sigbare mobiele patrollering die hoofroetes van en na Pretoria te domineer om as afskrikmiddel te dien teen enige moontlike radikale optrede wat kon plaasvind. Daar was ook ander magte in Pretoria ontplooi wat te voet geopereer het gedurende hierdie tydperk. Twee dae na 1 April 1994 het 61 Meg na Heidelberg teruggekeer en vir nog `n tydperk as reaksiemag gedien.

Ook hierdie operasie was suksesvol uitgevoer en het 61 Meg sy doelwitte bereik. Een van die uitstaande kenmerke van die spesifieke operasie was die feit dat `n baie hoe standaard van dissipline deurentyd gehandhaaf was. Daar is baie kilometers gery in hierdie tydperk, en daar was slegs een ligte ongeluk tussen `n bakkie van 61 Meg en `n siviele voertuig met geen beserings. Geen ernstige verlies het voorgekom nie en dissiplinere vervolgings van individu was minimaal. Die sukses van hierdie operasie kan grootliks toegeskryf word aan uitstaande leierskap, gesonde wedywering, `n wil om te wen en die trots van 61 Meg. Aan die einde van Maart 1994 keer 61 Meg terug LGS.

Dit was die enigste twee operasies waarin 61 Meg in die tydperk deelgeneem het. Daar was ook weliswaar ander ontplooings in subeenheid verband waar verskeie welslae behaal is. Tydens die grensoorlog in SWA was suksesse van opersies hoofsaaklik gemeet aan die aantal vyandelike verliese en buitgemaakte uitrusting.

Tydens interne operasie was suksesse gemeet nav ander kriteria, nl arrestasies van verdagtes, opsporing van wapens, ens. Gemeet aan laasgenoemde kriteria was 61 Meg suksesvol in die uitvoering van operasies.

Oefeninge

Gedurende die tydperk ter sprake het 61 Meg aan vier opleidings oefeninge deelgeneem.

Oefening Sweepslag gedurende Januarie en Februarie 1994 was opleiding van verskeie kursusse wat praktiese opleiding met die magte en uitrusting van 61 Meg gedoen het. Hierdie was geleenthede wat benut was om 61 Meg paraat te hou, alhoewel dit met groot frustrasie gepaard gegaan het. Frustrasie in die sin dat `n hoog opgeleide mag deur onervare en soms “dom” studente aangewend was.

Oefening Sombre gedurende Julie 1994 was die jaarlikse groot konvensionele oefening waaraan feitlik die hele SAW, met uitsluiting van die SA Vloot, deelgeneem het. Dit moet weliswaar gemeld word dat daar vragskepe, met gepaardgaande op- en aflaai prosedures in die omgewing van Postmasburg gesimuleer was. Tydens hierdie oefening het 61 Meg bewys dat hy `n mag is waarmee rekening gehou moet word.

Vaandelparade

Deel van die oorhandiging tussen kommandante Gerrit Louw en Hannes van der Merwe was die vervaardiging van die vaandel van 61 Meg en die parade waartydens die vaandel oorhandig sou word. Magtiging was reeds verkry vir die heraldiek rondom die vaandel. Me Dulcy Byrnes van Johannesburg het die vaandel vervaardig uit materiaal afkomstig van Londen.

Die vaandel van 61 Meg is tydens `n luisterryke byeenkoms deur Generaal George Meiring, HNW, aan luitenant kolonel van der Merwe oorhandig op 10 Junie 1994. Luitenant generaal Kat Liebenberg, H Leer, was deel van die seremonie. Alle vorige bevelvoerders en RSM`e het deel gehad in die verigtinge. Die aand voor die parade was `n ete aangebied vir alle gaste en het elke bevelvoerder die geleentheid gehad om die hoogtepunte tydens sy bevel van 61 Meg met die gaste te deel.

Die vaandelparade was absoluut foutloos aangebied en selfs HNW het gemeld dat dit seker die beste parade was wat hy nog bygewoon het. Tydens die uithaal van die vaandel vir oorhandiging daarvan aan geraal Meiring het die Springbokkop afgebreek. Desnieteenstaande het die seremonie vlot verloop. Daarna was die Springbokkop altyd langs die podium in `n glaskas vertoon wanner die vaandel op parade verskyn het.

Ander gebeurtenisse

Aan die einde van 1994 het `n nuwe tradisie deel van 61 Meg geword met die instelling van die “FEES VAN DIE BEES”. Dit was `n 61 Meg aangeleentheid waartydens die jaareindfunksie met `n sportdag afgesluit is. Daardie dag is daar 2 beeste en `n aantal skape gebraai en gekuier tot laat die volgende oggend. Alle lede en families was deel van die “FEES VAN DIE BEES” – `n tradisie wat later deur die jare voortgesit was.

61 Meg het ook aan al die aktiwiteite van die LGS deelgeneem, soos sportdae, die Vaalbos marathon, parades en verskeie ander geleenthede.

Operations

Tell your Story

Did you serve with 61 Mech? Do you have a recollection or anecdote to share?

Subscribe Now and share your experiences.

If you subscribe to the member site, you can read stories and view photos which can not be accessed from the public site.