Oudstryders besef dit, maar SA regering nie

Revised: November 28, 2010 Tags:

Vir almal wat betrokke was by die Bosoorlog is daar ’n ander waarheid.

Die Bosoorlog is eintlik een naam vir twee oorloë: Suid-Afrika se stryd teen die Namibiese bevrydingsbeweging Swapo; en Suid-Afrika se operasies ter ondersteuning van die Angolese guerrilla-groep Unita.

Dié oorloë het Suid-Afrikaners in konflik gebring met Swapo, die Angolese weermag, die Russe en Kubane.

Hoekom het ons hierdie oorlog geveg en wie het dit gewen? Is dit gewen by Cuito Cuanavale of by die onderhandelingstafels in Ruacana en Washington?

Wat bepaal ’n oorwinning: die vyand se verliese opgeweeg teen joune of die politieke uitkoms?

Was al die lewensbloed van jong Suid-Afrikaners wat in die sand gevloei het die moeite werd?

Die antwoorde op dié vrae is die onderwerp van heftige debat tussen oudoffisiere, politici en historici.

Want vir elkeen is daar ’n ander waarheid. Een waarheid word gepropageer deur die Angolese en Kubane, en ’n ander deur die Suid-Afrikaners. Boonop is die Suid-Afrikaners verdeeld oor wat húl waarheid behoort te wees.

Dalk is die ware vraag of dit nou, 22 jaar ná die laaste Suid-Afrikaanse ongevalle in Angola, nog belangrik is wie die propaganda-oorlog wen.

Soldate — beroepsoffisiere en die jong dienspligtiges wat ingevolge die landswet opgeroep is — verklaar nie oorloë nie.

Politici verklaar oorloë.

Soldate doen net hul werk.

Daarvoor betaal hulle soms met hul lewe, terwyl die oorlewendes met geestelike letsels gelaat word. Ook die geliefdes van die lewende én die dooie slagoffers word diep gesny.

Juis hierin lê die belang en betekenis van die onlangse pelgrimstog na Angola deur ’n groep veterane van die Bosoorlog waaroor daar die laaste weke in Rapport berig is.

Hulle het nie politieke of morele regverdiging gaan soek nie. Hulle het nie gaan tjank of simpatie soek nie.

Soos soldate deur die eeue heen het hulle dinge deurgemaak wat ’n geweldige impak op hul lewe gehad het. Hulle het gaan sin maak daarvan, saam met makkers wat dieselfde deurgemaak het. Hulle het vriendskap en respek gaan betoon teenoor ou vyande. Want elke man tel: Suid-Afrikaner, Namibiër, Angolees, Rus of Kubaan.

Soms is dit genoeg om bloot ’n ander se waarheid te erken en te respekteer.

In die woorde van kmdt. Ben Khadila, geharde Swapo-veteraan, by ’n kuier met die Suid-Afrikaners: “There are no victors here. Peace is the only victor.”

Kan daar ’n groter waarheid as dít wees?

En hoe ironies tog dat die Angolese en Swapo die Suid-Afrikaanse veterane se versoeningsgebaar verwelkom het. Dít terwyl die Suid-Afrikaanse regering weier om die name van slagoffers van die Bosoorlog in Vryheidspark in Pretoria aan te bring.

Deon Lamprecht – Rapport

Documents

    No Documents added

Images